Video
HESSEQUA NUUS - Die Hessequa-munisipaliteit het vandag, Vrydag 12 Desember, die skoolvakansie amptelik afgetrap op die N2 net buite Riversdal, met ’n gesamentlike Verwelkomingsveldtog wat sterk klem plaas op padveiligheid, toerisme en gemeenskapsamewerking.
Die inisiatief is deur die Hessequa-munisipaliteit se beskermingsdienste gelei, met ondersteuning van Hessequa-toerisme, brandweerdienste, wetstoepassing, verkeersdienste, provinsiale verkeer, provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling, Riversdal-polisie, Working on Fire, die Tuinroete distriksmunisipaliteit en verskeie ander rolspelers.
Met die verwagte toename in verkeer het die veldtog nuut gefokus op padveiligheid en bewusmaking.
Hessequa-toerisme het 150 geskenksakkies aan motoriste uitgedeel - elk gevul met lekkernye, verversings, toerisme-inligting en 'n Suid-Kaap Forum om besoekers welkom te heet en hulle bewus te maak van wat die streek bied.
Volgens die toerisme-eenheid is die inisiatief deel van hul mandaat om akkurate toerisme-inligting beskikbaar te stel en die Hessequa-streek as ’n veilige, toeganklike vakansiebestemming te bevorder.
Hessequa-toerisme het ook hul vakansieprogram versprei waarin waterbewaring beklemtoon word.
Vakansiegangers word aangemoedig om spaarsamig met water om te gaan en die veiligheidsriglyne vir strande en riviere in die gebied na te kom.
Die Verwelkomingsveldtog verseker motorsite dat die munisipaliteit gereed is vir die seisoen en enige noodsituasies.
“Toerisme is ’n belangrike ekonomiese dryfveer vir ons streek,” sê die munisipaliteit, “en dit is vir ons belangrik om besoekers veilig te verwelkom.”
Ilze Jacobs, Toerisme-Veiligheidsbeampte van die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme (verantwoordelik vir die Tuinroete en Klein Karoo), was vanjaar ook prominent betrokke by die verrigtinge.
Die munisipaliteit wens alle inwoners en besoekers ’n veilige en genotvolle vakansietyd toe.
Video: Ben Snyman
Onder-burgemeester Gerald Boezak gee verslag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’