HEIDELBERG NUUS - Met die toename van dwelmmisbruik in die land, is dit verblydend dat die plaaslike polisie en veral die misdaadvoorkomingseenheid (MVE), onder leiding van sers. Vuyo Vryman, so op hul hoede is om die verspreiders van die euwel vas te trap.
Sondag 7 Desember is twee vermeende dwelmsmouse, tydens 'n beplande operasie in Theo Adamsrylaan, Joe Slovo Park, met verskeie dwelms in hul besit in hegtenis geneem.
Volgens konst. Keeno Fredericks, plaaslike mediabeampte, het Vryman saam met twee van sy kolegas, sers. Carlet September en konst. Auburn Bezuidenhout, 'n perseel deursoek en op die dwelms beslag gelê.
Met die arrestasie van die eerste verdagte, Marcel Solomons (23), is daar nege bankies tik, vyf Mandrax-tablette en een volle pak dagga met 'n geskatte straatwaarde van
R9 300 in sy besit gevind.
Die tweede verdagte, Shaweji Kingwele (26) 'n Tanzaniese-burger, is met 143 bankies tik en 51 daggazolle met 'n geskatte straatwaarde van R3 400 in sy besit betrap.
Beide is op dieselfde perseel in hegtenis geneem.
Solomons het Maandag 8 Desember vlugtig in die plaaslike landdroshof op aanklag van dwelmhandel verskyn.
Die saak is tot Maandag 16 Februarie uitgestel.
Hy bly in aanhouding. Met betrekking tot Kingwele se saak is daar op hierdie stadium nie duidelikheid oor wat die status van die saak is nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’