RIVERSDAL NUUS - Opruim is vanjaar se tema vir die Vroue-Lanbouvereniging.
Met dié tema in gedagte het Karien Coetzee Dinsdag 12 Junie lede en besoekers meer van herwinning vertel.
"Herwinning verminder energie verbruik en lugbesoedeling. Wanneer jy iets hergebruik moet dit 'n langdurige hergebruik waarde hê. Dit help nie om iets net vinnig te hergebruik en dan beland dit in elk geval in die asblik en word nie herwin nie," het Coetzee gesê.
Sy het klem gelê op die noodsaaklikheid van herwinning en hoe belangrik dit is dat almal moet saamspan om 'n verskil te kan maak. Coetzee het só verduidelik: "Herwinning is die proses om afvalmateriaal in nuwe materiale en voorwerpe te omskep. Dit is 'n alternatief vir 'konvensionele' afvalverwydering wat materiaal kan bespaar en later kweekhuisgasvrystellings kan help."
Sy noem dat wanneer jy besluit om te herwin alles skoon en droog moet wees. Glas moet heel bly sodat sorteerders nie hul hande sny nie. Baie glashouers het 'n metaaldeksel wat van die glas verwyder moet word sodat glas by glas en metaal by metaal geplaas kan word. "As ons hierdie probleem met entoesiasme aanpak, sal ons stelselmatig dit kan oorwin."
Thomas Julies van Hessequa-munisipaliteit het die praatjie bygewoon en gesê dat hy meer geleer het en gaan kyk waar hulle aanpassings kan maak om sodoende in die proses 'n verskil te kan maak.
Die VLV-dames het die aand besluit om 'n plastiekproppie-gemeenskapsprojek te begin. Wanneer 'n sekere hoeveelheid plastiekproppies ingesamel is, word dit ingehandig. Indien daar genoeg is, kry jy 'n rolstoel in ruil daarvoor. Dié rolstoel sal dan aan iemand in die gemeenskap geskenk word.
Mense wat proppies bymekaarmaak kan dit by die NG Kerk, Riversdal-Wes inhandig.
'n Bietjie vermaak en veral musiektalent is belangrik vir die VLV en daarom het James Stanley hulle met sy saksofoon bekoor.
Karin Coetzee verduidelik hier wat herwinning is en waarom dit so belangrik is.
Coetzee het 'n paar interessante feite gedeel:
- Een herwonne blikkie kan genoeg energie bespaar om 'n televisie vir drie uur aan te dryf.
- 'n Herwonne glasbottel sal genoeg energie bespaar om 'n rekenaar vir 25 minute aan te dryf.
- Een herwonne plastiekbottel sal genoeg energie bespaar om 'n 60-watt gloeilamp vir drie uur ta laat skyn.
- 70% Minder energie word benodig om papier te herwin in vergelyking met grondstowwe.
- As elke koerant se papier herwin sou word sal ons omtrent 250 000 000 bome red 'n jaar.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'