HEIDELBERG NUUS - Die hegte band van jarelange vriendskap wat sedert gr. 3 (destyds st. 1) in die 1950's begin het, is onlangs hervat toe Tossie Lochner (81) en Annie Wessels (néé Thiart) (83) weer in 'n bekende restaurant ontmoet het.
Die twee skoolmaats het mekaar vir die eerste keer by die Mooigelegen plaasskool buite Witsand ontmoet. Hulle was daarna weer saam by Laerskool Buffeljagsrivier, waarna albei die res van hul skoolloopbaan by Hoërskool Heidelberg voltooi het.
Lochner, 'n eertydse Springbokradio verslaggewer en toe RSG buitelandse verslaggewer, het haar na haar huwelik in 1969 met Roberto Vegnuti, 'n Italianer, in Italië gaan vestig. Sy het eers onderwys aan Wellington Opleidingskollege gestudeer, waarna sy spraakterapie aan die Universiteit van Kaapstad studeer het.
Sy het vir 10 jaar by verskeie skole in die Bellville-distrik spraakterapie aangebied voor sy haar sielsgenoot ontmoet het. Sy was vir 30 jaar buitelandse verslaggewer per telefoon.
Beide haar kinders is in Italië gebore, maar sy het hulle met Afrikaans grootgemaak. Haar kinders het hulle in die vroeë 90's in Suid-Afrika kom vestig, waarna sy in 2008 na haar eggenoot se afsterwe haar ook in Pretoria gevestig het. Volgens Lochner het sy oor die jare gereeld in Suid-Afrika kom kuier.
Die afgelope paar jaar kuier sy ook gereeld by Rooies Wessels en haar man op Witsand. Dit was dan ook Rooies wat die reünie tussen die ou vriende gereël het.
Lochner, wat nog goeie gesondheid geniet, hou haar deesdae besig as gasvrou by 'n bekende supermark in Pretoria.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'