HESSEQUA NUUS - Het jy al opsommings gemaak, hoeveel van jou werk ken jy, sal jy deurkom, waar gaan jy studeer en maaaaaa, hoe laat eet ons is van die vrae wat almal die meeste tydens matriekeindeksamen hoor.
'Matriek-siek' kan enigiemand tref en dit is niks om hoor skaam te voel nie. Net die idee dat jy dalk volgende jaar moet begin werk, uit jou ouers se huis sal moet trek of universiteit toe moet gaan kan genoeg wees om die senuwees op hol te jaag.
Kortliks werk die impak van stres so
Die bynier skei adrenalien en die streshormoon, kortisol in die bloedstroom af. Hormone wat onder stresvolle omstandighede afgeskei word, veroorsaak die algemeen bekende veg-of-vlug-reaksie.
Voorbereiding
Goeie voorbereiding en 'n kort- sowel langtermynplan is iets wat help om jou beter gemoedsrus te gee. Dit help baie om vraestelle van vorige jare deur te werk. Die vraestel sowel memorandum is maklik bekombaar.
Webtuistes waar jy moontlik vorige vraestelle kan aflaai is www.onniesonline.co.za, www.teachme2.co.za en www.education.gov.za. Maak seker dat jy die werk verstaan. Dit is soveel makliker om te leer wanneer jy weet wat die leerwerk behels.
Jy mag dalk oorweldig oor die baie leerwerk en min tyd voel, maar kyk na die betrokke vak se leerplan, handboeke en notas. Bepaal wat die belangrikste onderwerpe is en watter dele van die werk jy steeds nie begryp nie.
Só 'n vooruitskouing bespaar tyd, deurdat dit jou help om te organiseer en op die hoofonderwerpe te fokus. Pas hierdie metode by jou eie styl en leerwerk aan. Hoe vroeër jy begin, hoe beter.
Studiemetode
Indien jy nog nie 'n gepaste studiemetode het nie, praat met jou onderwyser en vra hulp. Miskien kan een van jou klasmaats met 'n metode help of julle kan selfs saam studeer. Dit gebeur soveel maal dat jy nie weet waar om te begin nie. Kry beheer oor die situasie en kry jou prioriteite reg. Maak 'n lys van al die dinge wat jy moet doen en breek jou werklas in hanteerbare dele op.
Eet reg
Party leerders verkies selfs om saam met hul ouers 'n eetplan uit te werk. Dit help jou om ontspanne te wees en nie heeltyd oor etenstyd en kos maak te wonder nie. Kies gesonde en vars produkte wat jou brein sal voed. Moet dit nie net tydens eksamentyd eet nie, begin nou al. Het jy geweet dat hoewel jou brein jou liggaam se beheersentrum is, dit maar net 2% van jou totale liggaamsgewig beslaan?
Indien jy die regte hoeveelheid kilojoules inneem om jou liggaamsgewig in stand te hou, word 20 % van daardie energie aangewend om jou grysstof van krag te voorsien. Omega-3 is noodsaaklike vetsure is lewensbelangrik vir die ontwikkeling van die brein.
Salm, forel, sardientjies en tuna, okkerneute, olyfolie, groen blaargroente, aarbeie en avokadopere verskaf hoë vlakke van omega-3 aan ons dieet. Vitamiene in die B-groep help om breinkrag te verhoog en geheue te verbeter.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'