HESSEQUA NUUS - Bekende inwoners van Hessequa vier elkeen Erfenisdag op hul eie manier.
Allyson Bryant, voorsitter van die Stilbaai landelike sub-polisiëringsforum, vier die dag saam met familie om 'n etenstafel. "Remembering our ancestors that were well-known - Hendrik Potgieter in the Boer War and Harry Wolhuter, game ranger in the Kruger Park, who killed an attacking lion with a pen knife. Wolhuter's Camp was named after him," she proudly remembers.
Corrie van der Westhuizen, kampvegter vir die Heidel-tehuis vir hawelose kinders, het "gaan visvang op die Breederivier en gaan nou braai", het hy laat weet.
"Dis ons mooi land en vir almal om te geniet. Die mooi natuur is ons erfenis. Dis mos Braaidag en ek braai omdat ek kan en wil."
Andrew Stroebel, Hessequa-raad se speaker, het Erfenisdag gaan navors. "Voor 1994 was Erfenisdag bekend as Shakadag, waartydens die Zoeloes hul koning herdenk het, bekend. Met die oorgang na 'n nuwe Suid-Afrika het die kabinet besluit daar moet 'n dag wees waarop Suid-Afrikaners, van watter bevolkings-groepe ook al, hul eie erfenis herdenk. Oud-president Nelson Mandela het self die woord reënboognasie bedink om Suid-Afrika se uiteenlopende kulture, gebruike, geskiedenis en tale te beskryf. Erfenisdag moet 'n viering van daardie kleurryke verskeidenheid wees."
Volgens hom gaan Erfenisdag nie net oor eie kulture van afsonderlike groepe nie, maar veral oor die uitreik oor die verskillende kultuurgrense heen. "Natuurlik moet daar ook gebraai word, want dit bring ons as 'n gesin saam."
Wim Filmalter van Landcare sê hy bou onverpoosd aan 'n teleskoop wat moet klaarkom, asook aan 'n astrofotografie-lesing wat hy die komende naweek by 'n sterregeleentheid moet aanbied.
"Dit alles hou verband met die 200-jaar herdenking van sterrekunde in Suid-Afrika wat volgende jaar Oktober in Observatory by die SAAO gehou word. Ek is ook daar betrokke met die restourasie van 'n reeks antieke teleskope en toerusting - ons sterrekunde-erfenis is massief!"
Beth Pain is voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum. Sy en haar broers en susters vier Erfenisdag om die bed van haar bedlêende moeder. "Dit is vir ons baie besonder om as familie saam met Mamma die dag te vier, vir haar 'n sagte drukkie en 'n soentjie op die voorkop te gee."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'