STILBAAI NUUS - Stilbaai is geleë in 'n besondere deel van die Kaapse Floristiese Koninkryk, naamlik die Hessequa-streek, met unieke groeitoestande wat nie noodwendig geskik is vir alle plante wat elders in die land floreer nie.
Baie inwoners wat uit ander dele van Suid-Afrika na Stilbaai verhuis, bring hul gunstelingplante saam, net om teleurgesteld te wees wanneer dié plante nie in hul nuwe omgewing aard nie.
Om tuinliefhebbers te help om die regte plantkeuses vir Stilbaai te maak, bied Tuin-Op-Die-Brak op Vrydag 2 Oktober om 10:00 'n spesiale aanbieding in die Klipgebou aan.
Andor Venter, Naomi van Schalkwyk en Anna Francies sal tydens die aanbieding gesels oor inheemse plante vir Stilbaai-tuine en spesifiek fokus op plantsoorte wat wel onder die plaaslike toestande sal floreer.
Die ideale groeitoestande vir meer selektiewe plante sal verduidelik word, terwyl aandag ook gegee word aan die sogenaamde ou staatmakers - plante wat minder kieskeurig is en oor die jare bewys het dat hulle goed in Stilbaai se tuine aard.
Die aanbieding beloof om nuttige inligting te bied aan inwoners wat hul tuine wil verbeter, maar terselfdertyd plante wil kies wat by Stilbaai se besondere natuurlike omgewing aangepas is.
'n Verskeidenheid klein plantjies sal ná die aanbieding by die Klipgebou te koop wees, sodat belangstellendes van die kennis wat hulle opgedoen het, in hul eie tuine gebruik kan maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’