Update
HESSEQUA NUUS - 'n Groot aantal inwoners van dié streek maak nie van gesinsbeplanning gebruik nie, ten spyte van pogings deur plaaslike gesondheidsfasiliteite om die belangrikheid hiervan aan hulle oor te dra.
Gesinsbeplanning behoort 'n baie belangrike aspek van enige volwassene wat seksueel aktief is, se lewe te wees.
Wanneer gekyk word na die eerste 1 000 dae, 'n inisiatief wat fokus op die moeder en kind se gesondheid vanaf bevrugting tot die kind twee jaar oud is, het gesinsbeplanning 'n groot invloed op moeder- en kindergesondheid.
Gesinsbeplanning verminder die behoefte aan aborsies, veral aborsies wat onwettig en onveilig is.
Bewyse toon dat vroue wat vier of meer kinders kry se risiko vir moedersterfte aansienlik hoër is.
Swangerskappe wat baie gou na mekaar en onbepland is, dra by tot 'n hoër babasterftesyfer.
Tienerswangerskappe is ook 'n rede hoekom gesinsbeplanning so noodsaaklik is.
Tieners se babas is meer geneig om vroeg gebore te word of 'n lae geboortegewig te hê en hulle het ook 'n hoër neonatale sterftesyfer.
Tieners moet dikwels hul skoolloopbaan beëindig, wat 'n invloed het op hulle as individue, hul gesinne en hul gemeenskap.
Hoekom gebruik vroue nie voorbehoedmiddels of gesinsbeplanning nie?
'n Hele aantal wanopvattings het ontstaan weens 'n gebrek aan kennis.
Sommige daarvan is:
- Die intra-uterien-voorbehoedapparaat (IUCD) of inspuiting veroorsaak vroulike kanker of bekkenpyn.
- Die IUCD kan pynlike seksuele omgang veroorsaak.
- Vrese dat sterilisasie meer pyn na keisersnee of hormoonprobleme kan veroorsaak.
- Mense wat voorbehoedmiddels gebruik, het op die ou end gesondheidsprobleme.
- Voorbehoedmiddels kan jou baarmoeder skade aandoen.
- Voorbehoedmiddels verlaag vroue se seksdrang.
- Voorbehoedmiddels kan kanker veroorsaak.
- Voorbehoedmiddels kan veroorsaak dat jou babas misvormd is.
- Voorbehoedmiddels is gevaarlik vir vroue se gesondheid.
Watter voorbehoedmiddels is beskikbaar?
Orale voorbehoedmiddels: Oor die algemeen bekend as 'die pil'.
Dit moet elke dag gedrink word en is gratis by klinieke en hospitale beskikbaar.
Dit verhoed nie seksueel oordraagbare infeksies (SOI's) nie.
Implanon: 'n Inplanting wat in die boarm ingeplant word wat minstens drie jaar dekking bied en wat geen daaglikse roetine verg nie.
Voorbehoedinspuiting vir vroue: Dit voorkom nie SOI's nie.
Intra-uterien-voorbehoedapparaat (IUCD): 'n Klein toestel wat in 'n vrou se baarmoeder geplaas word en vir ten minste vyf jaar swangerskap verhoed. Dit voorkom nie SOI's nie.
Kondome: Gratis by klinieke beskikbaar (vrouekondome is by spesifieke klinieke beskikbaar). Dis die enigste enkele metode wat dubbele beskerming teen beide ongewenste swangerskap en SOI's insluitend MIV/Vigs bied.
Sterilisasie: Dis 'n kort en eenvoudige operasie, maar 'n permanente voorbehoedmetode vir beide mans en vroue.
Enige persoon wat 18 jaar oud of ouer is wat in staat is om toestemming te gee, kan op hul versoek gesteriliseer word.
Afsprake kan by die kliënt se plaaslike kliniek gemaak word. Sterilisasie voorkom nie SOI's nie.
Noodvoorbehoedmiddel: Dit moet binne vyf dae na onbeskermde seks gedrink word en moenie as 'n gereelde voorbehoedmetode gebruik word nie.
Vroue word aangemoedig om ten volle voordeel te trek uit die reeks gratis gesinsbeplanningsdienste wat by hul plaaslike kliniek beskikbaar is.
Lees 'n vorige artikel: Beplan jou gesin
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'