HEIDELBERG NUUS - Die euwel van rommelstrooi blyk 'n uitklophou te kry as die lede van die nuutgestigte omgewingsbewustheidsgroep, onder leiding van Pierre van der Berg en Louise Kluyts, bekende plaaslike kunstenaar en omgewingsaktivis, in hul doel slaag om dié praktyk hok te slaan.
Nagenoeg 90 inwoners, waaronder leerders en onderwysers van Kairos en Hoërskool Heidelberg, asook 'n paar lede van die plaaslike rugbyklub, het Saterdag 15 September 'n skoonmaakaksie begin om saam te val met Internasionale Herwinningsdag op 16 September. Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa, het ook 'n draai by die rugbyspan gemaak.
Die uur lange skoonmaakaksie het nagenoeg 120 sakke vullis opgelewer wat die entoesiastiese deelnemers bymekaargemaak het. Volgens Kluyts was hul beplanning om veel langer besig te wees, maar die aanhoudende reën wat toegesak het, het hulle gekniehalter.
Die groep het by die Calla Uys-natuurtuin bymekaargekom, waarvandaan hulle in nege spanne oor die dorp versprei het om die taak aan te pak.
Kluyts het ook kortliks 'n oorsig gegee oor die vordering van die Fietsry- en Voëluitkykroetes. Sy het hul dankbaarheid teenoor al die deelnemers uitgespreek en die hoop uitgespreek dat die aksie ten minste een keer per maand uitgevoer kan word.
Die groep vrywilligerskoonmakers by die Calla Uys-natuurtuin.
Sy het benadruk dat hulle baie meer mense by die projek wil betrek sodat die kultuur van nie-rommel en herwin 'n realiteit kan word.
"As almal inkoop sal ons binnekort 'n omgewingsvriendelike dorp het waarop almal trots kan wees."
Enigiemand wat 'n bydrae wil lewer om van die dorp 'n spogdorp te maak, kan Kluyts by 028 722 1080 of 082 378 4126 kontak.
Die Kairos-leerders met sakke. Louise Kluyts en Helené Mostert staan in die agtergrond.
Helené Mostert en haar span gr. 11-leerders van Kairos besig om die kanaal skoon te maak. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'