WITSAND NUUS - Die hawehoof (jetty) op Witsand is Maandag, 6 Desember weer amptelik heropen na dit gesluit moes word omdat dit nie geskik was vir publieke gebruik nie.
Die hawehoof was aanvanklik in April 1940 geopen.
Lance Tomlinson was een van die grootste dryfvere agter die oprigting van die oorspronklike hawehoof, hoofsaaklik om as vasmeerplek vir Rademan en Tomlinson se dekskuit, die Infanta te dien.
Na baie klagtes oor die toestand van die hawehoof ontvang is, het die munisipaliteit 'n strukturele ingenieur aangestel om die toestand van die hawemuur te bepaal. Hulle verslag het aangetoon dat die struktuur vervang moet word. Hierdie proses is reeds in die 2019/2020 finansiële jaar afgehandel.
Die ingenieursfirma is ook in dieselfde finansiële jaar aangestel om die ingenieurstekening op te stel. Die kostes om die skade te bepaal, asook die ingenieurstekening het ongeveer R150 000 beloop.
Die oprigting van die nuwe struktuur het R1.5m beloop. Die stuktuur is onder met gegalvaniseerde staal versterk en die staalpype met sement gevul ten einde addisionele steun aan die struktuur te verleen. Die dek is van spesiale plastiek vervaardig wat spesiaal gemaak is om glybestand te wees.
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'