GOURITSMOND NUUS - Wessa-lede van Eden het onlangs Gouritsrivier Bewaringstrust se 3 km-staproete gaan stap.
Die 60 lede het die dag terdeë geniet. Die weer het goed saamgespeel om van die dag 'n onthoudag te maak.
Isabel Swart het die groep namens Gouritsmond welkom geheet. Ds. Pieter Franzsen het vertel hoe die vier staproetes ontstaan het.
Dit is die tuiste van minstens 14 spesies van bedreigde plante. 'n Voorbeeld van die Gouritsmond steekhaarbos (Collumia) is gewys.
"Ons is baie bevoorreg om so 'n verskeiden-heid van strand- en rivier kusveld, ruigtewoud van duine bosveld en fynbos van oorgangs-, duine- en proteafynbos langs ons vier staproetes te hê," het die lede gesê.
Edwin Butler het spesies van kalkrantproteas wat in rooi, pienk en wit voorkom, vertoon.
Hy het ook sy kennis oor die medisinale gebruik van die verskillende plante gedeel.
Na hierdie insiggewende praatjie het drie veldwagters van Fransmanshoek die stappers as gidse vergesel.
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'