Update
SLANGRIVIER NUUS - "Ek kan nie wag om weer by die huis te wees na die tweede kans wat die Here my gegee het nie," is wat Werner Hartnick (18), Suid-Kaap Forum telefonies meegedeel het net voor hy Donderdag 20 Julie uit die Tygerberg-hospitaal ontslaan is.
Werner, 'n gr. 10-leerder by Kairos Senior Sekondêr en 'n boorling van Slangrivier, kan nie uitgepraat raak oor hierdie tweede kans wat hy gegun is ná hy 'n suksesvolle hartoperasie op Maandag 10 Julie ondergaan het nie.
Dit was sy derde hartoperasie sedert sy dae as baba.
Sy laaste operasie was nodig omdat sy een hartklep en are vernou het wat onder meer veroorsaak het dat hy kortasem raak en sleg geslaap het. In die operasie is die vernoude deel met 'n mediese ballon oopgerek.
Werner vertel dat hy baie beter as voorheen voel.
"Ek voel sommer stukke beter. Ek het lanklaas so goed gevoel. Ek is ook baie dankbaar vir die ondersteuning en gebede van my familie, vriende en skoolgemeenskap," het Werner genoem.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’