Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Myn net buite die dorp, Cape Bentonite, het nie net hul werkers nie, maar ook ander rolspelers betrek om die nodige noodhulpvaardigheid aan te leer.
Die maatskappy het as deel van hul sosiale verpligtinge teenoor die gemeenskap, ook personeel van drie kleuterskole, Kleine Pikkewyne, Kleine Diamantjies en Neskuikentjie by die opleiding ingesluit.
Die opleiding is deur Donovan Booysen van Safetech gefasiliteer. Hy het verskeie aspekte van die belangrikheid van basiese noodhulp aan die 10 deelnemers uitgewys, maar veral klem gelê op die nodige prosedure wat gedoen moet word as hulle slagoffers wil bybring wat in noodsituasies beland.
"Dit is van kardinale belang dat noodhulp baie kalm toegepas moet word," het hy benadruk. Noodhulpwerkers moet in beheer van hul eie emosionele toestand wees om hul taak te verrig. Mond-tot-mond asemhaling is aan die deelnemers uitgewys, asook hoe om te bepaal wat die slagoffer se polsslag is.
Hy het na die RCB-terme verwys as die drie onderskeie maniere om polsslagtelling te bepaal:
'Radial' is om die gewrig se polsslag te toets, 'Carotial' word by die nek toegepas en 'Brachial' word gewoonlik op babas jonger as een jaar op hul arm toegepas.
"Dit is die belangrike stappe wat gedoen moet word voor enige ander stappe oorweeg word om die slagoffer te stabiliseer."
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'