Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Sedert die sooispit geleentheid minder as twee weke gelede van die groot behuisingsprojek waaroor Suid-Kaap Forum op 24 September berig het, is daar reeds 50 werksgeleenthede vir inwoners van Melkhoutfontein geskep.
Die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers sê in 'n persverklaring dat fase 1 van die projek tans aan die gang is. Dit behels die opgradering van die rioolwerke om voorsiening te maak vir die 589 huise wat daar gebou gaan word.
Die infrastruktuur vir die huise behels onder andere die konstruksie van 4.78km se paaie, 2 600m se ondergrondse stormwater pype, 4 315m se rioolpype en 4 735m se wateraansluitings, asook die installasie van 1 075m se elektrisiteitaansluitings en uiteindelik die huisstrukture op die erwe.
"Hierdie projek met 'n begroting van R136 miljoen behoort teen Februarie 2023 voltooi te wees en in hierdie tyd sal swaar op plaaslike arbeid geleun word," het hy benadruk. "Projekte soos hierdie wys weer eens hoeveel geleenthede geskep word en ons is vasbeslote om die inwoners te bemagtig."
Hy het voorts genoemd dat dit vir die Wes-Kaapse regering baie belangrik is dat plaaslike inwoners by hierdie projek baat, nie net vir behuising nie, maar ook vir werkskepping. "Gryp die geleentheid aan en gun daardie werklose mense in uiterste nood die geleentheid om vir hulle gesinne te kan sorg."
Vorige artikel: Werkskepping in Melkhoutfontein
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'