HESSEQUA NUUS - Strenger waterbeperkings is deur Hessequa-munisipaliteit ingestel, want hoewel die streek 'n goeie reënseisoen gedurende die winter gehad het, is die reënvalsyfer deesdae laag en die meeste damme se vlakke sak vinnig.
'n Inwoner het egter na aanleiding van die beperkings, wat ook op Suid-Kaap Forum se webtuiste is, genoem dat die huidige vaste koste op water veroorsaak dat hoe minder water jy gebruik, hoe meer jy per liter water betaal.
"Dit is teenstrydig of onregverdig teenoor inwoners wat water bespaar en/of mense wat net een persoon in 'n huis is. Die verlaging van die vaste kose en dalk verhoging van verbruik is meer in lyn met die waterskaarste beleid van die munisipaliteit," het Org Nieuwoudt genoem.
By navraag het Didi Budricks, hoof van openbare betrekkinge, administrasie en hulpbronne gesê dat die heffing van waterkostes uit 'n vastekoste komponent en eenheidsprys komponent bestaan, wat kortliks as volg verduidelik kan word:
Vaste koste
Dit verteenwoordig daardie gedeelte van uitgawes wat aangegaan moet word ongeag die feit of enige water verkoop is of nie, byvoorbeeld die salaris van personeel wat permanent aangestel is met spesifieke take met betrekking tot die voorsiening van water, koste van kapitaal en versekering wat betaalbaar is ten opsigte van die infrastruktuur.
Hierdie koste moet verhaal word of enige water gebruik word of nie. Die koste word dus deur middel van 'n vaste heffing per tydperk (normaalweg op 'n maandelikse basis) verhaal om te verseker dat hierdie koste gedek word.
Eenheidskoste
Dit hou verband met die fisiese voorsiening van water volgens aanvraag en moet gefinansier word deur middel van 'n eenheidstarief wat betaalbaar is per kiloliter water verbruik. Die eenheidskoste word bereken volgens die volgende eenheidsblokke, naamlik: 1kl tot 15kl; 16kl tot 30kl; 31kl tot 40kl; 41kl tot 50kl; 51kl tot 70kl en >70kl.
Die watertarief struktuur is met die plaaslike gemeenskappe gewerkwinkel en deur die Raad goedgekeur vir implementering.
• Vir die jongste waterbeperkings soos deur Hessequa-munisipaliteit ingestel, kyk hier.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'