HEIDELBERG NUUS - Twee konstabels het dwelmhandel in dié dorp 'n groot slag toegedien toe hulle 'n 34-jarige man met dagga, Mandrax-pille en -poeier gearresteer het.
Justin Paige en Edward Pieterse het op 'n wenk dat iemand met 'n vragmotor met 'n besending uit Kaapstad op pad is, gereageer. Hulle was op patrollie in die Oos-dorp naby die daghospitaal toe hulle die verdagte opmerk. Die verdagte het probeer weghardloop, maar die konstabels het hom gou ingehaal en deursoek. Die dwelms, 86 Mandrax-pille, 0,044 gram Mandrax-poeier en 1,2 kg dagga met 'n beraamde straatwaarde van R6 500 is in sy besit gevind.
Die beskuldigde het op Swellendam in die hof verskyn en die saak is voorlopig teruggetrek tot die uitslae van die laboratorium bekendgemaak word.
Ao. Alroy Windvogel doen 'n dringende beroep op alle inwoners om met inligting oor dwelmhandel vorendag te kom sodat die euwel hokgeslaan kan word.
Konsts. Edward Pieterse en Justin Paige. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'