ALBERTINIA NUUS - Die wêreld se grootste trui wat 'n paar jaar gelede in die Guinness World Records-boek aangeteken is, hang nie meer op sy plek in die Tuinplaas-museum buite Albertinia nie.
By verdere ondersoek het dit aan die lig gekom dat dié wêreldberoemde trui in Jeff Gibson, wat in 'n stadium by Tuinplaas betrokke was, se besit is. Gibson het dit bevestig, maar wou nie sê waar dit is nie.
"Tuinplaas het ongelukkig weens Covid-19 die museum toegemaak en die trui moes verwyder word. Vir sekuriteitsredes gaan ek nie sê waar dit is nie, slegs dat dit in veilige bewaring is, tot daar finaal besluit word waar dit vertoon sal word," het hy aan Suid-Kaap Forum gesê. Hy is van mening dat die trui uitrek as dit in die museum hang.
Tinka Smal, kurator van Albertinia-museum voel dat die trui aan dié museum besorg moet word waar toeriste dit kan gaan besigtig, omdat dit die aanvanklike doel deur die breiklub van Albertinia was om toerisme daardeur te bevorder.
Hierop het Gibson gesê dat die trui vir vyf jaar by Tuinplaas was, waar dit op 'n behoorlike stellasie gemonteer was en baie besoekers het dit gesien. "Die toerismekantoor is ook op Tuinplaas by 'n museum wat ek begin en vir drie jaar self beman het. Ek het gereël dat sekere politici die trui kom besigtig en het ook gereël dat die breiklub se lede teenwoordig was. Waar was die 'besorgde inwoners' wat nooit daarna kom kyk het nie?" het hy gevra.
Op die bewering dat daar geen kostes aan die projek verbonde was nie, het Gibson genoem dat die kostes om die trui te brei en bewyse, insluitend videomateriaal en 'n ingenieur se meting daarvan, R25 159 beloop het, meestal vir fotografie. Verdere kostes was om die dokumente te koerier en betaling vir die pos van die sertifikaat – net oor 'n R1000.
"Ek het aan me Smal verduidelik en gesê dat sy vir my 'n voorstel moet gee oor hoe die trui in die museum vertoon kan word sonder dat dit hang, want dit het, in die kort rukkie daar in 2015 gerek en ek gaan dit nie ondersteun nie. Ek het ook aan haar verduidelik dat ek al 'n geruime tyd met twee plaaslike besigheidsmense beplan om 'n behoorlike manier te bewerkstellig om die trui te vertoon," het Gibson bygevoeg.
"Ons het 'n borg gekry wat bereid was om die trui te behandel, omdat inwoners wat Tuinplaas besoek het, gekla het dat hulle muise gesien het wat oor die trui hardloop. Ons sou ook probeer om dit so te monteer sodat dit nie rek nie, maar Jeff het dit verwyder voor daar daadwerklik opgetree kon word," het Smal genoem.
Nina Mather, wat die dryfkrag agter die breiprojek was se dogter, Emsie Geldenhuys het gesê: "My ma se wens vir die trui was dat dit in die museum op die dorp moes wees, nie buite die dorp nie."
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'