STILBAAI NUUS - Die derde Saterdag in September word jaarliks as strandskoonmaakdag gebruik en vanjaar het dit op 17 September geval.
Die dag word gebruik om strande skoon te maak en ook om bewustheid te kweek van die ongelooflike skade wat veral plastiek aan die oseaan aanrig.
Na raming dryf daar sowat 5,25 triljoen stukke plastiek in die oseane en alhoewel baie daarvan direk in die see gegooi word, spoel heelwat stukke in riviere en stormwaterslote af en van strande die see in.
Clifton Donald, wat al 25 jaar betrokke is by hierdie inisiatief, het hierdie jaar 20 vrywilligers byeengekry om te help opruim.
Omdat Stilbaai se strande relatief skoon is, het 'n paar die rivieroewer aan die oostekant van Stilbaai, in die rigting van Lappiesbaai getakel. Ander het weerskante van die Jongensfontein-pad gewerskaf en ook in Hoofweg.
Dis natuurlik om te verhoed dat hierdie gemors uiteindelik die see ingewaai of ingespoel word.
Gewapen met geel vullissakke en handskoene wat geborg is, het hulle binne twee ure 'n berg vullis bymekaar gemaak wat later deur Hessequa-munisipaliteit weggery is. Met hulle terugkoms is al die vrywilligers beloon met koeldrank, wat deur 'n plaaslike supermark geborg is.
As dit is wat 21 mense in twee ure kan vermag, kan mens jou net indink wat 100 mense in dieselfde tyd kan verrig. Dit laat die vraag of inwoners 'n jaar moet wag alvorens iets aan die situasie gedoen word.
Of dalk is dit tyd dat Stilbaaiers moet saamstaan en op eie inisiatief 'n Stilbaai-skoonmaakdag reël.
Die 20 vrywilligers by die hoop vullis wat hulle op strandskoonmaakdag opgeruim het. Clifton Donald (met rooi windjakker) was die organiseerder van dié skoonmakery. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'