Ongeveer 25ha is afgebrand, maar was die grootste skade aan heiningdrade wat in die slag gebly het.
Met Suid-Kaap FORUM se besoek net na 17:30 was inwoners van die informele woongebied erg bekommerd dat hul huise moontlik in die slag kon bly. Brandweermanne van die Stilbaai/Melkhoutfontein brandweer was eerste op die toneel en spanne van Riversdal en Albertinia het gevolg om die vlamme in toom te probeer hou, maar het die wind nie sake vergemaklik nie.
Die brand is eers teen Donderdagoggend ongeveer 3:00 geblus en was die rooi gloed van die vlamme regdeur die aand sigbaar vanaf Stilbaai, soos die vlamme oor die koppies gedans het. FPA-brandweerspanne is deur Eden brandweer op gereedheid geplaas om teen Donderdagoggend met brandbestryding te help.
Volgens mnr. Gerhard Otto, woordvoerder van Eden brandweer op George het dit tydens ‘n evaluering met behulp van ‘n vaste vlerk vliegtuig geblyk dat die vuur vanaf die padreserwe by die teertoegang naby Botterkloof na Stilbaai ontstaan het en toe direk oos in die rigting van Melkhoutfontein versprei het. Otto het ook bevestig dat die oorsprong van die brand nog nie bekend is nie, maar is die senior van Hessequa brandweer, mnr. Brain Afrikander versoek om die plaaslike polisie te kontak sodat ‘n ondersoek gelas kan word om die oorsprong van die vuur vas te stel.
Otto noem verder dat daar ongelukkig nie plaaslike lugsteun na die vuur agter Melkhoutfontein afgestaan kon word nie aangesien beskikbare bronne reeds by ‘n groot vuur in Paardekop, naby Ruitersbos in gebruik was en hulp vanaf Kaapstad sou eers na donker in Stilbaai kon wees. Gelukkig het personeel onder leiding van mnr. Afrikander daarin geslaag om die vuur weg te hou vanaf die Melkhoutfontein woonbuurt.
Teen eerste lig Donderdag, 23 Februarie is daar ‘n lugverkenning gedoen en is daar gevind dat die mees kritieke flanke onder beheer was, maar is spanne versoek om op gereedheid te bly vir Donderdag, Vrydag asook Saterdag aangesien dit ‘n normale tendens is dat vure weer begin opvlam sodra die wind laatmiddag begin waai.
Die spanne moes die vuurlyn 24uur monitor en is "mopping up" ook gedoen om te verseker die vuur vat nie weer vlam nie. Heelwat inwoners van Melkhoutfontein het Woensdagmiddag ingespring om die branweerpersoneel by te staan om die vuur te probeer blus en word die samewerking volgens Otto hoogs op prys gestel.
Sien nog foto's hier.
Jongmense van Melkhoutfontein help die brandweer om die swaar waterpyp deur die bosse te dra.
ARTIKEL EN FOTO'S: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS