STILBAAI NUUS - Daar lê egter meer agter die konsep as wat op die oog af lyk en grendeltyd het die saak nog ingewikkelder gemaak.
Een van die viskopers op die hawe Dougie Cramer, verduidelik die probleem só: “Ons tree as middelman vir die plaaslike vissers op. Ons koop hul vangste teen ’n sekere bedrag en verkoop dit weer aan groter plekke. Almal wen daardeur.
"Met die inperking is restaurante toe, markte het drasties verminder en pryse het geval. Ons koop steeds soveel as moontlik en maak nie wins nie om booteienaars en bemannings te help aan die lewe bly, maar ons kan nie alles koop nie. Nie almal op die dorp begryp egter die situasie nie.”
Dit blyk dat sommige lede van die plaaslike vissersgemeenskap reken die viskopers loop hulle in, omdat hulle nou minder vir hul vangste betaal word. Cramer verduidelik egter dat hulle as kopers as’t ware aan die groot kopers uitgelewer is: “As die groothandelaar my ’n goeie prys betaal, kan ek teen ’n hoër prys vanaf die vissers aankoop. Ek het nie ’n sê oor die prys nie. Aanvraag is egter nou só laag dat mens werklik moet vat wat jy kan kry, net om aan die lewe te bly.”
’n Klompie van die ongelukkiges het volgens wat verneem word, enkele weke gelede probeer om die vissermanne in die dorp oor te haal om die plaaslike kopers te boikot en nie see toe te gaan nie. “Hulle het na ’n Paasnaweek sonder geld vinnig tot ander insigte gekom,” sê Cramer.
Hy verskaf steeds gratis ys voor ’n boot uitgaan en probeer skippers tegemoet kom waar hy kan. Hy reken daar is net een manier om te oorleef: “Ons is saam hierin gegooi en ons moet saam die brander ry. Ons help die vissermanne so ver as moontlik, maar hulle moet ons ook help.”
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'