TUINROETE NUUS - Op skool word leerders dikwels oorweldig deur die reusebesluit oor wat hulle na skool gaan doen. Dus het Akademia, wat 'n studiesentrum in George het, besluit om hierdie skoolvakansie 'n virtuele beroepsvoorligtingskonferensie aan te bied.
Die aanlynkonferensie, sê Mareli Rall die projekbestuurder, is spesiaal vir gr. 11 en 12-leerders.
Sy sê gewoonlik skryf leerders psigometriese toetse en hoor van voorgestelde kwalifikasies wat hulle aanleg- en persoonlikheidsprofiele pas.
"Onsekerheid heers dikwels oor wat hierdie kwalifikasies behels en watter loopbaanroetes jy met só ’n kwalifikasie kan betree. Skoliere hoef nie meer te wonder nie! Die konferensie bring akademie en praktyk bymekaar met 'n gratis virtuele konferensie wat vanaf 26 tot 29 Oktober bedags tussen 09:00 en 11:00 eksklusief vir gr. 11’s en 12’s gehou word."
Rall sê die konferensie is om belangstellendes toe te rus met die nodige kennis om deurdagte toekomsbesluite te neem. “Dikwels besef studente eers in die middel van hulle studies dat die kwalifikasie nie is wat hulle verwag het nie.”
Sy verduidelik dat akademici onderskeie kwalifikasies gaan bespreek terwyl uitgesoekte persone vanuit die praktyk hulle persoonlike beroepservarings gaan deel. Boonop kry belangstellendes die geleentheid om beroepsrelevante vrae aan hierdie persone te rig.
Volgens Rall hou beroepsvoorligting talle voordele in. Behalwe dat jy presies weet wat jou beroep gaan behels wanneer jy klaar studeer het, kan hierdie blootstelling ook help om nuwe kontakte op te bou.
“Jy ontmoet dalk net die regte persoon en word later 'n uitstekende pos aangebied. Of wie weet, dalk prikkel die konferensie 'n nuwe beroepsbelangstelling en voor jy jou oë uitvee het jy 'n kwalifikasie in hierdie rigting voltooi.”
Belangstellendes kan vir een of meer van die volgende sessies registreer.
- BA (kommunikasie en joernalistiek) - 26 Oktober
- BSc (wiskundige wetenskappe) - 26 Oktober
- BCom (ekonomie en regte) - 27 Oktober
- BCom (ondernemingsbestuur) - 28 Oktober
- BSocSci (politiek, filosofie en ekonomie) - 29 Oktober
- BCom (finansiële en bestuursrekeningkunde) - 29 Oktober
Jy kan hier aanlyn registreer.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'