STILBAAI NUUS - Is jy lief vir lees en het die grendeltyd jou geboikot om by die biblioteek uit te kom? 'n Paar inwoners van dié kusdorpie het met 'n baie oulike plan vorendag gekom om boekwurms te help - en boonop gratis!
Pieter en Roelita van Niekerk wat op die hoek van Park- en Vygiestrate bly, het die idee vir 'n straatbiblioteek jare gelede by hul kinders wat in Perth, Australië woon, gesien.
'n Houer word aan die buitekant van 'n heining vasgeheg wat 'n klompie boeke kan huisves en dit moet natuurlik 'n deur hê, sodat dit teen wind en weer beskerm kan word. Dit werk soos 'n ruiltransaksie: Jy neem 'n boek uit die houer, maar plaas weer een in sy plek terug.
"As iemand nou regtig nie 'n boek het om terug te sit nie, is dit darem ook nie doodsake nie," sê Pieter. Hulle kry ook skenkings van boeke en met Suid-Kaap Forum se besoek was daar juis 'n hele boks vol op die bankie by die houer. Pieter het self die houer gemaak en so ook die bankie. "Dis maar daar vir iemand wat eers 'n bietjie wil rus of sommer net daar sit en lees," vertel hy.
Baie mense het hul afgeraai en gesê dit sal nie werk nie, omdat die boeke vasgelê sal word. Maar hulle doen dit al vir die afgelope drie jaar en dit het nog nie gebeur nie.
Elmarie Heyneke wat in Bergroosstraat 12 in Stilbaai-Hoogte bly, het dieselfde gedoen. Sy was in daardie stadium nie bewus van die Van Niekerks se straatbiblioteek nie en het dit by haar dogter, Cindy Coetzee gehoor wat dit weer êrens in die Wes-Kaapse platteland opgemerk het. Elmarie het in die grendeltyd daarmee begin, juis om mense wat nie boeke by die biblioteek kon uitneem nie, te help. Sy het 'n klein yskassie wat sy by 'n skrootwerf gekry het, vir dié doel aangewend en iemand gekry om dit buite te verf en die signwriting te doen.
Pieter van Niekerk staan by die houer wat hy self gemaak het, asook die bankie voor vir lesers se gerief.
Ook hier is 'n lekker verskeidenheid boeke om van te kies.
En binne is 'n redelike verskeidenheid om van te kies.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'