Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die dorp is tot in sy fondament geskud met die nuus dat twee plaaslike inwoners en twee buitelanders Maandagaand, 17 Oktober, in hul huis as gyselaars aangehou is.
Die vier is vanaf 21:00 tot die volgende oggend net ná 04:00 met messe gedreig en aangehou.
Volgens die eienaar van die huis, Elias Plaatjies, was hy en sy vriend Herbet February, wat by hom bly, en twee buitelandse loseerders, waaronder 'n plaaslike sakeman Carlos Baguma, by die huis toe twee jong vrouens hulle kom besoek het.
"Baguma het die een gestuur om bier te gaan koop, maar toe sy terugkom was daar drie onbekende jongmanne saam met haar," vertel Plaatjies.
Hy sê hy wou nie die deur oopmaak nie omdat hy nie die drie mans geken het nie. Die mans het toe die agterdeur oopgetrap en hom met 'n mes teen sy keel gedreig en beveel om stil te bly.
Baguma sê toe hy na die kombuis is om te gaan kyk wat aangaan, is hy ook met 'n mes deur een van die mans gedreig. Die ander loseerder het in die kamer probeer terugveg, maar hy is ernstig aangerand en sy been is in die proses gebreek.
Hy is die volgende oggend vroeg na die hospitaal op Riversdal geneem waar hy opgeneem en vir sy gebreekte been en ander ligte beserings behandel is.
Die vyfstuks is net ná 04:00 die oggend daar weg nadat hulle vir Baguma aanhoudend gedreig het om geld en sy selfoon vir hulle te gee.
Plaatjies en February was duidelik erg geskok ná die voorval. "Ons was nog nooit in ons lewens so vreesbevange nie en dit in ons eie huis."
VIDEO: Vier as gyselaars aangehou
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike polisiewoordvoerder, het die rowers met R5 700 kontant, 'n Samsung Galaxy-selfoon ter waarde van R4 200 asook vleis ter waarde van R305 weggekom.
Die B-skoflede het die twee vroue, onderskeidelik 26 en 30 jaar oud, later Dinsdag in Dollar Square in hegtenis geneem nadat Baguma 'n beskrywing van hulle verskaf het.
Die drie mans is Woensdagaand, 19 Oktober deur die plaaslike polisie in hegtenis geneem. Hulle sal op Vrydag 21 Oktober saam met die twee vrouens in die plaaslike landdroshof verskyn.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'