Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Merrie, hings en vulletjie wat verlede jaar op 28 September verwilderd op die N2 buite Albertinia by die Hectorskraal-afdraai gehardloop en met behulp van die Albertinia-plaaswag van die pad verwyder was, is sedertdien deur CARS (Community Animal Rescue Society) versorg.
Die vermoede was dat die perde moes losgebreek het, want die vulletjie het duidelike skaafmerke aan haar nek gehad van 'n tou waarmee sy vasgebind was.
Hulle was verwaarloos en baie verwilderd. Die vulletjie moes toe omtrent vier weke oud gewees het.
"Die perde was tot 4 Desember in pleegsorg by iemand in die Albertinia omgewing," sê Sandra Lotz, voorsitter van CARS. Thinus Lotz het vanaf daardie dag vir hulle begin versorg. Hy het van soggens vroeg en saans laat stalle skoongemaak en met baie geduld die perde sover gekry dat hulle mense vertrou.
LEES MEER: Perde maak amok op N2
Die perde het intussen name gekry. Die merrie is Lady Di, haar vul Biscuit en die reun is Jupiter.
"Hy is so mak dat die kinders op hom ry. Lady Di het nie mense by haar verdra nie, maar kom eet nou snacks uit jou hand en byt ook nie, soos sy in die verlede gemaak het. Die vulletjie het in 'n speelse pragperd gegroei en is lief om drukkies te gee," vertel Sandra.
Thinus Lotz en Wouter Kotze.
Dit het egter alles met baie geduld, liefde en groot onkostes gepaard gegaan, maar op 23 Desember het Lady Di en Biscuit na hul nuwe eienaar gegaan.
"Thinus het self die huis besoek en keuring gedoen, want nie net die komitee moes tevrede wees nie, maar hy wou self tevrede wees dat hulle na die beste huis gaan."
Wouter Kotze het moeite gedoen deur gerieflike stalle te bou en kampe vir hulle te maak. Omdat Lady Di se ondervinding met vervoer nie so goed was nie, was die klim maar 'n storie en die manne moes hul voetwerk ken. Sy het viervoetig vasgesteek, maar haar dogter het lekker ingeklim en na 'n bietjie aansporing kon sy ook nie anders as om ook in te klim nie.
"Dit was 'n hartseer dag vir ons by CARS en veral vir Thinus, want hulle het hom vertrou, maar nou kan hulle die opelug geniet," sê Sandra.
Jupiter is nog by CARS en hulle sal voortgaan om hom te versorg.
"Ons wil almal bedank wat tot nou gehelp het met hul voer, versorging, raad en dan ook vir Jacques Oberholzer wat sy perdewaentjie vir ons beskikbaar gestel het om die perde na hul nuwe tuiste te vervoer."
Belangstellendes wat CARS met voer of kontant kan bystaan, kan Sandra Lotz kontak (082 962 1831).
Die uitgeteerde en verwaarloosde vulletjie het onder Thinus Lotz se liefdevolle versorging in 'n pragtige dier ontwikkel.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'