Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Hings, merrie en 'n vulletjie het op Maandag, 28 September verwilderd op die N2 buite Albertinia by die Hectorskraal-afdraai gehardloop.
Hulle is met behulp van die Albertinia-plaaswag van die pad verwyder.
"Die perde moes losgebreek het, want die vulletjie het duidelike skaafmerke aan haar nek van 'n tou waarmee sy vasgebind was," sê Sandra Lotz, voorsitter van Community Animal Rescue Society (CARS).
"Sulke onversorgde perde is gevaarlik, want hulle sal gaan kos en water soek," verduidelik Lotz.
Volgens haar het sy die Hessequa-munisipaliteit gekontak, maar sy weet nie wat hulle daaromtrent gedoen het nie omdat Albertinia-plaaswag haar om middernag weer geskakel het. "Die perde het toe steeds op die N2 geloop."
Lotz sê Nita Wessels van die plaaswag het haar die volgende oggend laat weet dat Wessel Cronjé in 'n oop veld by die Hectorskraal pad by die perde staan om te keer dat hulle weer op die pad gaan.
"Met Nita se hulp het ek met Willei Oosthuizen in kontak gekom en na Albertinia gery. Die perde is toe na veiligheid geneem." Lotz het die aangeleentheid by Albertinia-polisie aangemeld.
Die munisipaliteit is op 28 September twee keer in kennis gestel van die perde, en in beide gevalle het die brandweerdiens van Albertinia die klagtes bygewoon, maar kon nie die perde vind nie.
Die perde is nou by CARS vir veilige bewaring.
Lotz vra die gemeenskap se hulp met bydraes van bale strooi of lusern. Indien die perde se eienaar nie na vore kom nie, sal hulle hervestig word.
Die eienaar van die perde kan haar ook kontak, maar sal bewys van eienaarskap moet lewer. Skakel Lotz by 082 962 1831.
Die vulletjie het merke aan haar nek van ‘n tou waarmee sy vasgebind was.
Vorige artikel: Is dit jou perde?
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'