STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Filatelie-vereniging, onder voorsitterskap van Fred Meyer het Saterdag, 4 Desember 'n uitstekende uitstalling van hulle lede se unieke posseëlversamelings by Die Waenhuis, Jagersbosch uitgestal.
Die lede het entoesiasties verduidelik wat hulle uitstal en besoekers kon van die seëls koop.
Volgens Karel Nel, wat baie trots is op sy versameling van Suid-Afrikaanse staatsmanne, is dit so 'n wye veld dat versamelaars baie kere tematies versamel en dus kan konsentreer op 'n spesifieke tema.
Adriaan Loots het in die laaste drie jaar Suid-Afrikaanse posseëls van voëls begin versamel en hy maak ook pragtige collages met posseëls. Almal is dit eens dat die jonger geslag nie in seëlversameling belangstel nie, daarom is hy baie trots op sy kleindogter wat sy versameling beman het en eendag daarmee sal voortgaan.
Die unieke uitstalling van John Willemse was seëls van allerhande seeskulpe met die werklike skulp langs die posseël. Sy vrou versamel seeskulpe en hier kom twee wêrelde bymekaar.
Indien jy betrokke wil raak of meer inligting wil hê, kontak vir Fred Meyer (083 676 1379) of Karel Nel (082 414 4881/Karelnel@mweb.co.za).
Die lede kom maandeliks bymekaar waar hulle dan sommer gesels, seëls uitruil en koop en verkoop.
Amanda Nel se posseël-collage van 'n Pierneef-skildery op 'n 40c-posseël.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'