Update
HEIDELBERG NUUS - Die Pongolo-familie se vrese is Dinsdag 18 Julie bewaarheid toe David Pongolo (53) van dié dorp se liggaam buite Worcester gevind is.
Pongolo was sedert Vrydag 7 Julie vermis nadat hy glo by familie op Colesberg in die Oos-Kaap vir 'n paar weke gekuier het. Hy het blykbaar gedurende die nag van 18/19 Julie langs die pad verkluim. Volgens die aanvanklike verslag van die plaaslike polisie, was reëlings getref dat hy met die taxi tot op Worcester sou ry waar sy familie hom by die polisiestasie sou ontmoet. Met sy familie se aankoms was Pongolo egter nêrens te vinde nie.
Sy suster, Emily vertel dat die taxibestuurder bevestig het dat hy haar broer by die polisiestasie afgelaai het soos afgespreek was. Hulle het Pongolo se liggaam gaan uitken, maar het baie vrae oor sy skielike verdwyning. "Ek is van mening dat die polisie nie oop kaarte met ons speel oor David se verdwyning nie. Ons gaan egter nie die saak daar laat nie."
Vir kommentaar genader, het kapt FC van Wyk (mediawoordvoerder: Wes-Kaap) gesê dat hy terugvoering sal gee sodra die ondersoek afgehandel is.
Pongolo laat 'n dogter, kleinkind, sy ma Christine, asook 'n broer en drie susters agter. Hy word Saterdag 29 Julie op Venterstad begrawe.
Lees 'n vorige artikel hier: Vermiste man het verkluim
ARTIKEL: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'