Gallery Update Video
VERMAAKLIKHEID NUUS EN VIDEO - Dertig lede van die gemeenskap van die dorpie sowat 35 km vanaf Riversdal het Woensdag 12 Junie die koue trotseer om 'n vergadering oor landelike veiligheid by te woon.
Die vergadering is deur ao. Mias Oosthuizen van Riversdal-polisie en landelike veiligheids-koördineerder gereël.
Ma's, pa's, oupas, oumas en kinders, sommige in hul nagkabaai, is deur lede van die polisie en gemeenskapspolisieringsforum (GPF) uit hul kooie gaan haal en na die Tiny Treasures-kleuterskool gebring om te hoor hoe hulle en die polisie kan hande vat.
Terwyl die mense lekker sop eet om die bittere koue te besweer, het Oosthuizen die besoekers aan hulle voorgestel. lt.kol. Delecia Isaacs, Riversdal-stasiebevelvoerder, ao. Boer van Rensburg, waarnemende speurhoof, Beth Paine, voorsitter van die Riversdal GPF en Marlene Farland van Riversdal Buurtwag, te ontmoet. Suid-Kaap Forum is saamgenooi.
Oosthuizen het kaalkop die waarheid vertel oor die euwels wat in die dorpie hoogty vier en waaraan sommige inwoners aandadig is.
Baie gevalle van gesinsgeweld, waar ouers mekaar aanrand, maar ouers ook deur kinders aangerand word, kom voor. Dwelmmiddels en veral goedkoop drank wat onwettig verkoop word, is die wortel van die kwaad. Oor naweke word die polisie meermale uitgeroep wanneer drank huismoles veroorsaak. "Wanneer die polisievoertuie hier aankom, is alles verby en is julle weer lief vir mekaar. Dan is die polisie die varke wat met klippe bestook word. Ons is hier om julle te help, maar julle moet ons ook help deur jul deel te doen." Met betrekking tot onwettige drankverkope het kol. Isaacs dit onomwonde gestel: "Ons gaan julle toesluit sonder die moontlikheid van borgtog."
Kyk 'n video hieronder:
Alkoholmisbruik lei onvermydelik tot kinderverwaarlosing. Oosthuizen het aan die ouers verduidelik dat dit volgens wet hul plig is om toe te sien dat hul kinders skool toe gaan.
Hy het klem daarop gelê dat dit die ouer se verantwoordelikheid is om hul kinders te dissiplineer, net soos wat dit hul verantwoordelikheid en voorreg is om te sorg dat die kind 'n veilige, skoon huis, 'n warm slaapplek en genoeg kos het om te eet.
Kol. Isaacs het hulle gemaan om te sorg dat die situasie op Vermaaklikheid nie ontaard in 'n situasie soos op die Kaapse Vlakte, waar 40 mense in die bestek van 'n naweek vermoor is nie. "Kinders in die Kaap is in die kruisvuur - hier kan ons kinders steeds vrylik rondhardloop en kindwees geniet." Sy het gewaarsku dat die kinders hul slegte voorbeeld navolg."Kinders werk op grootmense se foute," het sy gesê, en hulle gemaan om gesonde rolmodelle vir hul kinders te wees.
Paine het verduidelik wat die GPF doen en dat dit die voorneme is om 'n subforum vir Vermaaklikheid te skep wat die probleme wat hulle ondervind onder die owerhede se aandag kan bring.
By die volgende vergadering op 31 Julie sal 'n voorsitter, sekretaresse en tesourier uit die geledere gekies word. Die gemeenskap moet solank dink wie geskikte persone sal wees wat nie 'n kriminele rekord het of aan 'politieke affiliasie behoort nie, wat sober van gewoontes is en wat betroubare leiersfigure is.
•Lees 'n vorige artikel hier: Polisie lees leviete voor in Vermaaklikheid
'Ons bring jou die nuutste Vermaaklikheid, Hessequa nuus'