RIVERSDAL NUUS - 'n Massasterilisasie word op 9, 10 en 11 Oktober deur Community Animal Rescue Society (Cars) by Riverville-stadion beplan.
Indien jy in Riversdal woonagtig is en graag jou troeteldier wil steriliseer moet jy vir Sandra Lotz (voorsitter) in kennis stel aangesien daar net plek is vir 150 diere.
Volgens Sandra kan geen hond gratis gesteriliseer word nie, elkeen moet 'n bydrae lewer.
Elke persoon se behoefte word gemeet volgens inkomste en daarvolgens sal bepaal word hoeveel hul bydrae sal wees.
Omdat baie mense nie hulle honde kan inbring nie, sal Cars die mense in kennis stel wanneer hulle hul diere kan bring of hulle sal moet sê indien Cars die diere moet kom haal.
"Om te kwalifiseer moet elke dier se eienaar individueel aansoek doen deur hul naam, van, adres, selfoonnommer, dier se geslag en naam vir my te WhatsApp. Ons gaan ook van huis tot huis stap om name op die lys te sit," sê Sandra.
Sy noem dat slegs diere wat op die lys is gesteriliseer sal word. Hul doen 'n beroep op die gemeenskap om te help waar hulle kan met onder andere vervoer van diere, mense wat die diere monitor na sterilisasie, enige hulp sal waardeer word.
"Ons benodig ook brandstof, want ons gaan haal en lewer die diere af en dit kan nogal 'n aardige bedrag beloop."
Skakel of WhatsApp Sandra by 082 962 1831.
Daar is te veel klein diertjies wat weggegooi word soos hierdie babas, maak 'n verskil en steriliseer jou dier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’