Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Polisieman wat as 'n verdagte in die verkragting van 'n kollega se dogter afgemaak word, is Donderdag, 18 Februarie departementeel onskuldig bevind.
Die polisie se kommunikasiebeampte vir die Wes-Kaap, brigadier Novela Potelwa swyg oor die kriminele klagte wat aanhangig gemaak is na die beweerde verkragting.
"Weens die tipe saak wat ondersoek word en respek vir die prosesse, sal verdere inligting oor die aangeleentheid nie aan die media bekendgemaak word nie," het Potelwa gesê.
Die feit dat die verdagte steeds in diens van die polisie is, word ook deur Potelwa van die media weerhou. Die bewering is dat hy omstreeks 23:00 op 11 Desember 'n speurder verbonde aan die kinder- en gesinsgeweldeenheid se dogter in haar ouerhuis sou verkrag het.
Die slagoffer se ouers was uitstedig en het die Riversdal-polisie gevra om die woning te patrolleer om haar veiligheid te verseker.
Inligting wil dit hê dat die verdagte met 'n privaatvoertuig en geklee in privaatdrag by die dogter aangeklop het en gevra of alles in orde is.
Hy sou daarna vra of hy die badkamer kan gebruik, waarna hy na bewering die kind verkrag het.
Potelwa het die ondersoek as baie sensitief beskryf. Sy wou nie kommentaar lewer oor die feit dat die polisieman nie tydens die ondersoek op verpligte verlof geplaas of geskors is nie.
Die polisie se onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek die kriminele klagte.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'