Update
RIVERSDAL NUUS - Die polisie se onafhanklike polisie ondersoek direktoraat (Opod) is besig om 'n klag van verkragting teen 'n polisieman van Riversdal te ondersoek.
Die sersant word ook intern dissiplinêr ondersoek. Hy is steeds in diens van die polisie.
Die bewering is dat hy omstreeks 23:00 op 11 Desember 'n speurder verbonde aan die kinder- en gesinsgeweldeenheid se dogter in haar ouerhuis sou verkrag het.
Die slagoffer se ouers was uitstedig en volgens haar pa het hy die Riversdal-polisie gevra om die woning te patrolleer om haar veiligheid te verseker.
Hy beweer die verdagte het met 'n privaat voertuig en geklee in privaatdrag by sy dogter aangeklop en gevra of alles in orde is. Hy sou daarna vra of hy die badkamer kan gebruik, waarna hy na bewering die kind verkrag het.
Brigadier Novela Potelwa, kommunikasiebeampte vir die Wes-Kaapse polisie het die ondersoek as baie sensitief beskryf.
Sy wou nie kommentaar lewer oor die feit dat die polisieman nie tydens die ondersoek op verpligte verlof geplaas of geskors is nie.
Potelwa het wel bevestig dat Opod die ondersoek hanteer.
"'n Interne tugproses is deur die Suid-Afrikaanse polisiediens in die Wes-Kaap ingestel.
Weens die tipe saak wat ondersoek word en respek vir die prosesse, sal verdere inligting oor die aangeleentheid nie aan die media bekend gemaak word nie," het Potelwa gesê.
Vorige artikel: 'Polisieverkragter' steeds in uniform
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'