Update
RIVERSDAL NUUS - Die polisie se 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders is Vrydag 8 November van stapel gestuur.
Die veldtog duur tot 27 November.
Pamflette met meer inligting oor die onderwerp is by die hoofingang na die dorp aan motoriste op die N2 uitgedeel.
"Ons wil die gemeenskap bewus maak van wat gesinsgeweld behels," sê konst. Venia Daries, polisiewoordvoerder. Van 13 tot 18 November word die veldtog verskerp met deur tot deur-besoeke in al drie sektore.
"Gesinsgeweld vier hoogty in die dorp. In die meeste gevalle hou die aanranding van vroue en kinders verband met alkohol. Dit kom deurentyd voor en nie net op betaaldag nie."
Wanneer 'n man sy vrou aanrand, word die kinders ook geraak. "Die kinders word dikwels aangerand wanneer die pa sy woede ook op hulle uithaal. Soms wil hulle vir die ma in die bresse tree en dan loop hulle ook deur."
Ouers word kwaad vir hul kinders en rand hulle aan as hulle nie skool toe wil gaan nie. "Soms wil hulle nie gaan nie omdat hulle iets kort wat hulle vir skool nodig het."
Tieners mishandel ook hul ouers. "Hulle word kwaad as ouers hulle aanspreek oor tienerseks, of hulle eis geld vir dwelms en drank en rand die ouers aan as hulle nie wil gee nie."
Werkloosheid is die wortel van die kwaad. "Werklose jongmense tussen 16 en 24 is dikwels ledig. Hulle gebruik drank en dwelms en om dit te bekom wend hulle hul tot misdaad soos diefstal, ook van hul ouers se geld en besittings." Dit is soms ook hierdie mense wat kwesbare bejaardes aanval met die doel om hulle te beroof. "Dwelms en drank benewel die sinne, wat lei tot seksuele misdrywe, aanranding en selfs moord."
Ten einde die euwel van gesinsgeweld hok te slaan, moet aanrandings aangemeld word. Kontak die polisie by 10111, Stop Misdaad by 0860 010 111, die hulplyn vir mishandelde vroue by 0800 105 150, of die kinderlyn by 0800 055 555.
Lees 'n vorige artikel hier: Polisie begin 16 dae teen gesinsgeweld
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'