RIVERSAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale het op 5 Mei sy 90ste verjaarsdag herdenk. Die skool is op 5 Mei 1928 met 'n totaal van ses seuns gestig.
Op 12 Mei 1928 word Oakdale deur dr. DF Malan, minister van onderwys, amptelik geopen. Malan het in sy openingstoespraak gesê dat hy glad nie oor die toekoms van die skool bekommerd is nie.
Drie van die ses seuns was uit die ou Transvaal en drie het uit die Vrystaat gekom. Aanvanklik is die ou plaaswoning as koshuis en huisouers gebruik. 'n Tweede
huis, 'n driekwart myl verder, is gebruik om die surplus leerders te huisves. In 1929 word die koeistal gebou. In November 1930 word 'n nuwe koshuis met huisvesting vir 42 leerders voltooi. In 1941 verkry die ou skool sy huidige vorm.
Vandag is die ou skool die Fanie du Toit-sentrum. In 1942 word die koshuisgeriewe ontoereikend. 'n Losstaande slaaplokaal met twee vertrekke is aangebou wat huisvesting aan 20 leerders gebied het. In 1943 word twee personeelwonings gebruik om surplus leerders te huisves.
Die skool herdenk sy 90ste bestaansjaar gedurende die naweek van 30 Mei tot 3 Junie wanneer oudskoliere, ondersteuners en ouers van oraloor na Riversdal sal reis om hierdie besondere mylpaal saam met geesgenote te gedenk.
Die program skop op Woensdag 30 Mei, af met die optrede van 'n gaskunstenaar in die markiestent vir al die leerders. Sondag 3 Mei word die fees om 09:30 met 'n dankseggingsdiens in die NG Kerk, Riversdal Moedergemeente afgesluit.
Dit word deur die bekende prediker, Riekert Botha gelei. Die kerkrade van die Moedergemeente en Riversdal-Wes het ingestem tot 'n gesamentlike diens in die Moedergemeente.
Feesprogram
- Woensdag 30 Mei - Spoegwolf-optrede in die markiestent vir hoërskoolleerders.
- Donderdag 31 Mei - Oakdale-skouspel met oudskoliere as gaskunstenaars in die markiestent tydens 'n kaas-en-wyngeselligheid.
- Vrydag 1 Junie - Gedenklesing in die skoolsaal om 09:00; Gholfdag om 12:00 op die Riversdal-gholfbaan, 4-Bal Alliance; Die gewilde Akkerfeesdans en steak-ete om 19:00 in die markiestent en skoolsaal.
- Saterdag 2 Junie - Rugby vs Paul Roos. Kom geniet 'n heerlike plaasontbyt of maak 'n draai in die Coffee Shoppe en geniet nog vele lekkernye te koop. Die gewilde groentemark sal plaasvars produkte verkoop en moenie van die slaghuis vergeet nie. Oudskolier-dinee en dans in die markiestent en skoolsaal om 19:00.
- Sondag 3 Junie - Dankseggings-diens met Riekert Botha as prediker in die Riversdal Moedergemeente om 09:30.
Vir enige navrae of kaartjies kontak Marlene Carstens by bemarking@oakdale.co.za of 083 321 0818 en Kobie Theron by oudskolier@oakdale.co.za of 028 713 2549 uitbreiding 4.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'