Gallery
RIVERSDAL NUUS - Met die somer wat afskop, sien Nancy (83) en Sias Pretorius (86) daarna uit om hul gunsteling tydverdryf behoorlik aan te pak deur hul tuin 'n lus vir die oog te maak.
Hierdie egpaar, wat al 63 jaar getroud is, geniet dit om hulself besig te hou deur in hul tuin te vroetel.
Hulle skoffel en plant self, want hulle glo dat niemand dit sal doen soos wat hulle dit wil hê nie. Hulle het wel iemand wat die gras kom sny en 'n tuinman wat twee keer 'n maand die beddings omspit.
Nancy en Sias het agt jaar gelede vanaf Barkly-Wes na Langezicht in Riversdal verhuis. Daar was glad nie 'n tuin nie, net klippe, grond en baie min gras.
FOTOGALERY: Vir tuinwerk skrik hulle nie
In slegs drie jaar het hulle dit in 'n pragtuin omskep. Hulle heel eerste plant was 'n inkalelie, wat na al die jare steeds pragtig groei en permanent blom. 'n Toonbeeld van wat hulle vermag het.
"My liefde vir tuinmaak het ek by my moeder gekry. Sy kon enigiets plant en met haar groen vingers, het alles gegroei. 'n Tuin is harde werk, want jy moet geduldig wees en dit goed versorg en jou hand daarop hou."
"Wanneer jy sien dat 'n blommetjie verlep, gee jy maar ekstra aandag en as jy weer sien, blom dit weer," sê Nancy met 'n glimlag.
Elke plantjie op sy plek.
"Wanneer ons iewers heen gaan, het my vrou altyd 'n klein messie in haar sak gehou. Dis nou vir ingeval sy 'n plantjie of blommetjie sien wat sy nie reeds het nie en wat sy dalk kan gaps. Sy sal egter nooit skade aan die natuur aanrig nie en 'n klein steggie mooi netjies afsny," vertel Sias met 'n vonkel in sy oog.
Nancy voeg vinnig by dat sy darem nooit by haar bure vat nie en sy is ook nie skaam om met ander te deel nie.
Elke tuin het natuurlik sy uitdagings en hier is geen uitsondering nie. Hul grootste vyand in die tuin is die slakke wat die plante opvreet en waterbeperkings, maar hulle beplan rondom die beperkings en werk hard om die plantvreters onder beheer te kry.
Met die vraag oor wat die geheim is om op hulle ouderdom nog so jonk van gees en energiek te wees, is die antwoord eenvoudig: "Hou jou besig met dit waarvan jy hou."
Wanneer hulle klaar in die tuin gevroetel het, hou Sias en Nancy daarvan om op hul stoep te sit en te ontspan.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'