Video
MELKHOUTFONTEIN NUUS EN VIDEO - 'n Klompie hawelose mans wat hul gewoonlik op Stilbaai bevind, is in tente in Melkhoutfontein gehuisves.
Dié tente is deur Hessequa-munisipaliteit verskaf. Badisa voorsien een maaltyd per dag aan hulle en elkeen het ook beddegoed ontvang. 'n Watertenk wat elke week volgemaak word en 'n toilet wat daagliks leeg- en skoongemaak word, is ook beskikbaar.
Op Suid-Kaap Forum se navraag het die tentbewoners oor die algemeen, heel ingenome met hul nuwe akkommodasie gelyk en gereken hulle sal eerder daar bly as om terug bos toe te gaan.
Die leier van die ANC op Melkhout-fontein, Marlin Jansen, is egter van mening meer moes vir die mense gedoen gewees het: "Die tentjies is klein en op die grond. Hulle moet koue en nat toestande trotseer terwyl sommige van hulle reeds siek is. Daar is voldoende geboue in Melkhoutfontein waarin hulle gehuisves kon word, soos die gemeenskapsaal."
Jansen reken ook die kans om die hawe-loses se menswaardigheid terug te gee deur hulle te leer om vir hulself te sorg, moet aangegryp word: "Ek moedig hulle aan om vir hulself kos te maak en nie net op Badisa staat te maak nie. Ons kan toerusting soos kastrolle verskaf en hulle kan weer op hul eie voete begin staan as hulle die kans gegun word."
Volgens munisipale bestuurder, Johan Jacobs, is op tente eerder as akkommodasie in geboue besluit, om die handhawing van sosiale afstand makliker te maak.
Kyk 'n video hieronder:
Die toilet en watertenk.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'