HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike tak van Heidelberg KANSA het Sondag 28 Oktober 'n welkome inspuiting gekry toe 'n groep familielede en vriende 'n finansiële skenking aan dié organisasie gemaak het.
Die skenking is moontlik gemaak deur die groep 'United Family' wat uit familie en vriende van oor die Wes-Kaap, waaronder Heidelberg, Zoar, Ladismith, Kaapstad en Mosselbaai bestaan.
Die groep wat geruime tyd reeds gereelde samekomste reël, het 'n dans na afloop van die jaarlikse Heidelberg-sportdag aangebied. 'n Deel van die geld van die dans is die volgende dag deur Percival Davids, kankerlyer en lid van die groep aan Marie Paige, KANSA-voorsitter geskenk.
Die skenking het R2 000 beloop. Paige, 'n kankeroorwinnaar het die groep bedank vir hul onbaatsugtige skenking. Sy het hulle ook aangemoedig om nie net finansiële ondersteuning nie, maar ook morele ondersteuning aan kankerpasiënte, hul familie en vriende te gee.
Die groep van 'United Family' het rede om groot blydskap te toon na hul skenking aan KANSA. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'