Update
SLANGRIVIER NUUS - Jacquin, enigste seun van Emmerentia October, ‘n enkelma van Slangrivier het sy PhD-doktorsgraad in Januarie aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi.
Sy jongste kwalifikasie in ABSTENTIA is as gevolg van die Covid-19 regulasies virtueel aan hom en nagenoeg 3 000 ander graduante toegeken. Die tradisionele gradeplegtigheid sal waarskynlik in Desember plaasvind.
Volgens October het hy nooit sy pa geken nie en het hy hom slegs een keer gesien toe hy 13 jaar oud was. Dit het hom nie gekeer om sy doelwitte te bereik nie en is hy baie dank aan sy ma, maar ook aan sy grootouers, oupa Jacob en ouma Sophie October verskuldig. Sy ma moes destyds in die Kaap gaan werk en het sy ouma en oupa hom grootgemaak.
“Hierdie drie mense, my oorlede en liefdevolle oupa, altyd-biddende ouma en hardwerkende ma is dus verantwoordelik vir die persoon wat ek vandag is. Vriendelikheid en nederigheid was altyd by my ingeskerp, want vriendelikheid, soos my ouma sê, kos niks.”
Sy primêre skoolopleiding was by Slangrivier Primêr. “Die eerste onderwysers wat die potensiaal in my gesien het, was wyle Mike Pepper en wyle Ohnel Hoogbaard. Hulle het die fondasie vir my sekondêre skoolopleiding by Kairos Sekondêre skool gelê.” Hy praat ook met groot agting van Leazle September en Peter (Pietie) Adams, wat grootliks tot sy sukses op hoërskool bygedra het. Hy noem verder dat hy dankbaar vir al sy onderwysers by albei skole is wat hom gemotiveer het.
October het in 2006 met sy studies begin. Hy het vir ‘n BSc-graad in chemiese biologie ingeskryf en het ‘n beurs van die universiteit ontvang. “My ouma het altyd gesê dat hulle nie geld het om vir my studies te betaal nie en moet ek my alles insit sodat ek vir ‘n beurs kon kwalifiseer, want wat ek insit sal ek uitkry. Hierdie woorde was my grootste dryfveer en ek dink dit is grotendeels verantwoordelik vir die sukses wat ek tot op hede behaal het.”
Volgens October was sy universiteitsloopbaan nie maanskyn en rose nie. Hy het sy tweede jaar gedruip toe hy net twee vakke uit nege kon slaag. As gevolg daarvan het hy sy beurs, sowel as sy plek in die koshuis verloor.
Danksy ‘n barmhagtige Samaritaan is sy registrasiegeld betaal en kon hy sy studies voortsit. Die res van sy BSc het redelik goed afgeloop en het hy dit in 2009 verwerf, waarna hy vir ‘n BSc (Hons)-graad in chemie ingeskryf en in 2010 voltooi het. Hiervoor het hy weer ‘n beurs van die universiteit ontvang.
Vir die volgende twee jaar het hy as ‘n analitiese chemikus by ‘n laboratorium in Woodstock gewerk sodat hy iets kon bydra aan sy familie wat hom so goed bygestaan het. “Ek het egter steeds motivering en dryfkrag gehad om meer te bereik. In 2013 is ek na die universiteit terug en het vir ‘n meestersgraad in chemie ingeskryf.” Twee jaar later voltooi hy die graad, maar volgens hom was die laaste twee grade die heel moeilikste om te voltooi. Dit vereis onafhanklike navorsing onder leiding van ‘n studieleier. Hier was hy geseënd met ‘n briljante professor, Selwyn Mapolie wat hom alles geleer het wat hy vandag weet.
Tussen 2013-2020 het hy beurse van die National Research Foundation (NRF), wat onder die vaandel van die department van wetenskap en tegnologie is, ontvang en wat hy nie hoef terug te betaal nie.
Die navorsing tydens die studies het baie druk op hom geplaas. “Ek het paniekaanvalle begin kry wat my bloeddruk negatief geaffekteer het. Dit was baie moeilik, maar ek het aanhou veg om suksesvol anderkant uit te kom. Vandag kan ek sê dat al daardie harde dae en werk die moeite werd was. Ek het dit net gemaak as gevolg van my biddende ouma en die res van my familie wat my konstant in gebed opgedra het. Al die glorie behoort aan God.”
Hy is tans besig aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy ‘n ses maande-kontrak vir na-doktorale navorsing en die publisering van sy navorsingresultate in wetenskaplike joernale gekry het. Tot op hede het hy reeds twee artikels gepubliseer gebaseer op navorsing wat hy voorheen uitgevoer het.
Gepols oor sy toekomsplanne, vertel hy dat ‘n werk vir hom in Duitsland wag om sy navorsing aan die Max Planck Institute for Chemical Energy Conversion voort te sit. “Ek is veronderstel om September te begin, maar as gevolg van die pandemie is dit uitgestel tot wanneer dit moontlik sal wees om te gaan.” Sy doel is om 'n eie onafhanklike navorsinggroep te hê, maar voel dat daar nog baie is wat hy moet leer.
Hy beplan ook om eendag aan sy gemeenskap terug te gee. Hy sien homself in ‘n posisie om die jeug te motiveer en te mentor. “Ek dink nie ons jeug weet altyd watter geleenthede daar buite is nie en ek voel ek kan iets doen om dit te verander. Om te sê dat jy nie geld het nie, is nie ‘n verskoning nie. Die belangrikste is om te soek vir geleenthede en dit dan met albei hande aan te gryp. Dit is belangrik om te droom, want dit beteken dat jy ‘n visie vir jou toekoms het. Aan die einde van die dag is jy die argitek van jou eie toekoms. Al val jy twee keer, moet jy ten minste drie keer opstaan, want dit maak van jou ‘n wenner.”
Vorige artikel: Aanhouer wen, sê October
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'