KANNALAND- EN HESSEQUA-NUUS - Die Wes-Kaapse provinsiale padnetwerk het die afgelope twee jaar erg deurgeloop met erge weerstoestande wat groot skade tot gevolg gehad het.
Tans is die eerste prioriteit om toegang te herstel waarna permanente herstelwerk sal volg.
“Een so ’n projek, die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur (DOI) se R13,5 miljoen-projek om ’n drif oor die Grootrivier op die Afdelingspad (DR) 1665 tussen Riversdal en Ladismith te vervang, is nou voltooi.
“Drif 10991 is só erg beskadig dat dit ontoeganklik was na die R323 wat toegang tot Van Wyksdorp aan die oostekant van die rivier beperk het,” sê Jandré Bakker, direkteur vir operasionele ondersteuning by die departement van infrastruktuur.
Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van infrastruktuur verduidelik verder dat die vorige struktuur gesloop en vervang is met ’n nuwe drie-sel-drif met groter kapasiteit om groot waterstrome te hanteer.
Die skade aan die brug. Foto's: Departement van infrastruktuur.
’n Twee meter breë dek is oor die volle lengte van die drif gebou, en gabion-bokse en -matrasse is geïnstalleer om te voorkom dat die struktuur ondermyn word. Die bestaande grondpadaansluitings is ook herbou en hergradeer aan beide kante van die drif.
“Herstelwerk ná vloedskade vorder uitstekend oor die hele provinsiale padnetwerk. Die span moet ’n fyn balans handhaaf tussen lopende operasies, groot projekte in kritieke fases, en die herstel van beskadigde infrastruktuur waarvan die beraamde herstelkoste die beskikbare hulpbronne oorskry.
“Ek prys ons span vir hul vermoë om projekte te herprogrammeer en te herprioritiseer sodat ons bestendige vordering maak terwyl die impak op ander projekte en bedrywighede tot die minimum beperk word,” het Simmers afgesluit.
Die brug tydens die herstelproses.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’