Kardiomanifestasie
Die kardioweergawe van Parvo is minder algemeen en kom in baie jong hondjies onder agt weke voor. Die virus word in meeste gevalle deur 'n geïnfekteerde ma-hond oorgedra. Honde begin asemhalingsprobleme ondervind en die hartjies sukkel om hul werk te doen.
Waar honde, veral tewe, gereeld hul inentings ontvang teen die virus, is die kanse baie skraal om sulke gevalle te sien.
Ingewandemanifestasie
Hierdie virus word nie deur die moeder oorgedra nie, maar hoofsaaklik deur mondelikse kontak met die parvovirus. Dit versprei deur braaksel, uitskeiding of deur geïnfekteerde/gekontamineerde grond. Sodra 'n gesonde hond in kontak kom met die virus, versprei dit baie vinnig. Dit is 'n vernietigende virus wat tot die dood kan lei. Indien dit vinnig genoeg opgespoor word, kan behandeling die dood verhoed.
Honde wat die virus oorleef, kan nog steeds spore daarvan dra in hul uitskeidings tot drie weke daarna. 'n Hond wat Parvo gehad het, kan lewenslank 'n draer wees en mag tekens van die virus enige gegewe tyd in hul lewe uitskei.
Is Parvo altyd dodelik?
Sonder ingrypende behandeling is die sterftesyfer ongeveer 91%. Met agressiewe behandeling kan die syfers daal tot 20% en selfs tot 5%, maar nie sonder gevolge nie.
Tekens van Parvo en nasorg
Simptome begin wys drie tot 10 dae na blootstelling aan virus - braking, moegheid/lusteloosheid, diaree (soms bloederig), koors, gewigsverlies en verlies aan eetlus.
- 80% van volwasse honde wys geen simptome; babahondjies is meer vatbaar.
- Die Parvo virus leef tot 'n jaar in uitskeidings of ander organiese materiaal, soos grond en gras of materiaal.
- Slegs 'n sterk bleikmiddel sal die kiem vernietig.
- Inenting is die ENIGSTE manier van voorkoming.
Dis word aanbeveel dat 'n babahond, sonder inentings, verkieslik nie die onbehandelde perseel betree vir ten minste drie maande nie. Behandelde gebiede sal veilig wees direk na behandeling.
Inligting deur Riversdal Dierekliniek verskaf.