Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Inwoners van Slangrivier is Sondagmiddag, 7 Maart erg geskok oor die tragiese dood van een van sy jong inwoners toe die motor waarin hy was, die pad verlaat en gerol het.
Die motor het in die veld tot stilstand gekom met die oorledene, Viaan Hoogbaard (32) wat buite die motor gelê het.
Hy is op die toneel dood verklaar. Die bestuurder en die ander passasier is vir hul beserings na Riversdal-hospitaal vervoer waarna hulle na behandeling ontslaan is.
Die ongeluk het net voor 16:00 op die Hoofstraat, sowat 80 meter voor die Port Beaufortpad T-aansluiting gebeur. Die drie mans was glo vanaf die Bo-rivier na die Onderrivier op pad huis toe.
Hoogbaard, pa van 'n 10-jarige dogter was by die plaaslike munisipaliteit se elektrisiteit-afdeling werksaam.
Hy was 'n baie talentvolle rugby- en krieketspeler wat uitgeblink het vir die plaaslike klubs, onderskeidelik Arrows-rugby- en Slangrivier-krieketklub. Hy was ook instrumenteel om die krieketklub weer op die been te bring na daar geen krieket vir 'n paar jaar was nie. Hy het ook vir 'n paar jaar as sekretaris en voorsitter gedien.
Die bestuurder van die voertuig, 'n 32-jarige familielid van die oorledene het blykbaar beheer oor die voertuig verloor en van die pad teen 'n paal gebots voor dit omgeslaan, gerol en in die veld tot stilstand gekom het. Hoogbaard se ma, Lenie van der Merwe, was saam met ander familielede op die toneel en het kort-kort in trane uitgebars terwyl familelede en vriende haar probeer vertroos het.
Volgens ao Alroy Windvogel, plaaslike kommunikasiebeampte word 'n saak van strafbare manslag ondersoek.
Buiten sy ma laat Hoogbaard sy dogter Nikita, suster Juné, asook sy stiefpa, Johnny van der Merwe agter. Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
Kyk 'n video hieronder:
Lenie van der Merwe, ma van die oorledene, word deur haar neef, Piet Hoogbaard, op die toneel ondersteun.
Familielede ondersteun mekaar op die ongelukstoneel. Foto's: Clive Pretorius
Vorige artikel: Jongman sterf toe kar rol
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'