Update
STILBAAI NUUS - Sakkie en Rona Nel wat 23 jaar gelede die plaaslike huisvesting vir honde begin het, het besluit om na al die jare as eienaars van Stilbaai-hondehokke te groet.
Rona vertel dat hulle dié besluit geneem het omdat hul nou hul oudag wil geniet.
Sy het destyds 'n kursus in hondeversorging (grooming) geloop en het vir 'n rukkie van hul strandhuis 'n klein besigheid gehad, maar gou het sy agtergekom dat baie vakansiegangers veilige huisvesting vir hul troeteldiere soek wanneer hulle na die pragtige kusdorpie kom.
"Ek het eers 'n paar honde by die strandhuis versorg, maar toe ons die plaas, Olive Grové, aanskaf het ons uitgebrei en 15 hokke laat bou."
"Na die eerste vakansie het ons besef dat die behoefte vir vakansiegangers baie groter is wat ons gedink het. Vandag het ons 40 hondehokke en daar is ses hokke vir katte. Ons het besoektye vir die troeteldiere en vakansiegangers het dit baie geniet om sekere tye hul diere te besoek."
Met Suid-Kaap Forum se besoek Saterdag 26 Augustus het hulle die hokke gaan wys en dit is werklik baie gerieflike hokke vir die viervoetiges.
Dis netjies toegerus en elke hok het sy eie klein 'agterstoep' wat die diere toelaat om bietjie in die sonnetjie te vertoef.
Rona vertel dat sy 'n mense-mens is en dit baie geniet het om die vakansiegangers te ontvang en dat hulle volle vertroue in hulle gehad het om die diere in hul sorg te laat.
"Ons is baie dankbaar teenoor almal wat ons al die jare ondersteun het."
Lees 'n vorige artikel: 'n tyd om te groet
ARTIKEL: ELIZE BLOM, SUID-KAAP FORUM JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'