RIVERSDAL NUUS - Dis nie aldag wat jy 'n wêreldbekende avonturier, sy span plus 'n sementsak met die naam Amelia in die dorp sien nie.
Dié unieke groep het Woensdag 26 Februarie 'n draai hier gemaak.
Riaan Manser, wat bekendheid verwerf het met avontuurtogte soos om die eerste mens te word wat per fiets om Afrika gery het, het Riversdal as deel van 'n unieke televisie-advertensie aangedoen.
Hy vertel: "'n Nuwe sementfabriek wat verlede jaar in Port Elizabeth geopen het, wou 'n advertensie met 'n verskil maak. Ek is 'n ambassadeur vir die Sunflower Fund (wat stamsel-skenkers werf om siektes soos bloedkanker te beveg) en ons het avontuurlike uitdagings met fondsinsameling gekoppel vir beeldmateriaal wat kykers sal laat regop sit."
Manser, sy gesin, kameraspan én die sementsak Amelia (genoem na die pionier-vlieënier Amelia Earhart) moes in sewe dae van Port Elizabeth na Kaapstad reis. Elke dag moes sekere uitdagings afgehandel word. Sommige dae het plekke soos krokodilplase ingesluit waar 'n dubbelganger vir Amelia al uitweg was om haar te beskerm. Sy is darem ook Dinsdagaand met haar uitgaanrokkie aan na 'n deftige restaurant vir ete geneem. Indien die span, sak en al, teen middagete op Saterdag 29 Februarie per hangsweeftuig vanaf Signal Hill in Seepunt kon land, sou die fabriek R150 000 aan die Sunflower Fund skenk.
Volgens Manser se skakelbeampte Karen Jurgens het alles voorspoedig afgeloop en Amelia en haar kamerade kon met 'n groot glimlag die tjek oorhandig.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'