TUINROETE DISTRIKNUUS - Ouers is nie opgelei om onderwysers te wees nie, maar miljoene ouers is tans genoodsaak om hul kinders tuis te onderrig.
Die uitdagings en konstante veranderinge wat met die pandemie gepaardgaan, het 'n groot impak op gesinstrukture. Ook onderwysers is dit eens, dit is beslis nie maanskyn en rose om onder hierdie omstandighede kinders te onderrig nie.
Skole en onderwysers staan ouers gelukkig by en stuur die nodige skooltake op sosiale media-platforms aan.
Sommige skole sorg ook dat uitgedrukte werkstukke by plaaslike winkels beskikbaar is vir ouers wat nie drukkers tuis het nie.
Uitdagend
Mossel Bay Advertiser het by plaaslike ouers gaan inloer, om uit te vind of hulle kop bo water hou.
Luan Augustyn (9) se ma, Nadine, sê aan die begin van die inperking was dit moeilik om haar kinders tuis te onderrig. "Hoe meer ek dit egter gedoen het, hoe makliker het dit geword. Ons word ook nie oorrompel met werk nie, en die juffrou sit alles vir ons mooi uiteen. Ek het egter nooit gedink dat ek dit sou kon doen nie."
Luan Augustyn
Nadia Aucamp, ma van Jeandré, 'n gr. 7-leerder, en Mieke, 'n gr. 5-leerder, sê haar kinders verlang na skool.
"Hulle mis hulle maats, die sport en selfs hulle onderwysers. Om tuis te onderrig verg baie selfdissipline, wat nie altyd vir die kinders maklik is nie. Dit verg verseker baie geduld van hulle mamma ook."
Cloe Conradie
Cloe Conradie (9) se ma, Michelle, sê haar dogter is baie pligsgetrou. "Dit gaan goed. Ons almal raak egter bietjie angstig oor wat die toekoms inhou, maar die juffrou help ons baie. Cloe word soggens wakker en dan begin sy dadelik met haar skoolwerk, haar bereidwilligheid help beslis."
Aleeka Muller (9) se ma, Berenise is ook deesdae 'n tuis-onderwyseres. "Dit gaan baie goed, maar partykeer raak ek wel kwaad vir haar. Wat kan ons egter nou doen? Ons gaan maar aan."
Aleeka Muller
Mieke Aucamp
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'