Gallery Update
HEIDELBERG NUUS - Die derde Goliath Davids Hessequa-toneelfees het Saterdag 6 Oktober met 'n hoogtepunt ten einde geloop.
Na 'n week vol drama moes die beoordelaars, Niël Rademan, Ralston Oliphant, Peter en Sandy Braaf die moeilike besluit neem wie die beste met hul onderskeie produksies gevaar het.
Die toneelfees vir laer- en hoërskole het homself stewig as 'n moet op die kunstekalender gevestig, wat voortaan jaarliks tydens die derde skolekwartaal op Heidelberg sal plaasvind. Dit het in 2016 begin met 12 skole en vanjaar was daar 'n ongelooflike 26 inskrywings.
Lloyd Davids, voorsitter van die Goliath Davids Legacy Project noem dat hulle die afgelope drie jaar aansoek om geldelike ondersteuning van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport doen, maar die antwoord is telkens dat daar nie genoeg fondse is nie.
Die fees is hoofsaaklik in Afrikaans, maar ander tale word ook geakkommodeer. Die skryf van nuwe, oorspronklike Afrikaans en Engelse tekste word ook aangemoedig.
Die feesbestuur bedank die nasionale Afrikaanse teaterinisiatief (Nati) se Cornelia Faasen vir hul finansiële steun, asook Hessequa-munisipaliteit, D.A.K en Danie van Wyk, voorsitter van die Suid-Afrikaanse onderwys ontwikkelingstrust (SAOOT), Ben en Ria Dell, Niël Rademan en ATKV vir hul teenwoordigheid.
Volgens Davids is die toneelbrigade 'n werkskeppingstuig vir kunstenaars, al is dit slegs vir twee weke ter voorbereiding van deelnemende skole. "Meer geldelike ondersteuning beteken ons kan hierdie ondersteuning uitbrei."
Niël Rademan, bekende pianis/kunstenaar en voormalige direkteur van die Suid-Oosterfees het aangebied om deel te wees van volgende jaar se fees.
Die Goliath Davids Legacy Project tydens hul opvoering van Raka.
Uitslae
Laerskole
- Beste akteur: Maheam Petersen - produksie Mix Masala van Erika Primêr (Mosselbaai);
- Beste regisseur: Ewen Amon - produksie Not yet free van Kerria Primêr (Atlantis);
- Beste produksie: Ons en Hulle van Hermes Primêr (Atlantis).
Hoërskole
- Beste akteur: Ayden October in die produksie Kontiki van Swellendam Sekondêr;
- Beste aktrise: Amke Grootboom in die produksie Vlerksleep van Bergrivier Sekondêr (Wellington);
- Beste regisseur: Ernest Loth met sy produksie Die Anderkant van Klein Nederburg Sekondêr, (Paarl);
- Beste produksie: Kontiki - Swellendam Sekondêr.
Lees 'n vorige artikel: Toneelfees bars uit sy nate
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'