Vir sommige was dit 'n droom wat waar geword het, maar vir ander was dit die begin van 'n nagmerrie.
Op 14/15 April 1912, terwyl mense in die derdeklas waarskynlik geslaap het en die passasiers in die eerste klas die weelde van die vaart geniet het, het die Titanic ‘n ysberg getref en die eerste skip geword wat tydens sy nooiensvaart gesink het. Daar was glo 2223 passasiers aan boord, maar volgens die meeste bronne en die Halifax-lys was daar 891 bemanning en 1317 passasiers aan boord in totaal dan 2208.
Daar het 1517 mense hul lewens verloor waaronder ook kaptein Edward J Smith. Dit word vandag steeds beskryf as die grootste tragedie en die ergste in seevaartongelukke.
Die onbekende kind
So baie word geskryf oor die Titanic, maar meeste van ons ken net die basiese inligting en dit wat ons in die fliek Titanic gesien het. Daar is egter heelwat meer stories, sommige heel onbekend aan die meeste van ons. In navorsing oor die Titanic word daar melding gemaak van die onbekende kind wat eers na 90 jaar geïdentifiseer is. Nadat die Titanic na die bodem van die Atlantiese Oseaan gesink het, het seemanne die liggaam van 'n 2-jarige seun uit die water gehaal. Dit was ook die enigste liggaam wat hulle gekry het wat nie ‘n reddingsbaadjie aangehad het nie. Hy sou vir jare bekend staan as die 'unknown child'.
Dit het DNA identifikasie wetenskaplikes en navorsers 90 jaar geneem om die 'unknown child' as Sidney Leslie Goodwin te identifiseer. Daar was slegs ses vermiste seuns onder die ouderdom van drie jaar op die Titanic. Na jare se navorsing is daar uiteindelik vasgestel dat hy saam met sy moeder Augusta (43), vader Frederick en vyf broers en susters, Lilian (16), Charles(14) William (11), Jessie (10) en Harold (9) aan boord van die Titanic was.
Sy pa het met die familie van Engeland na die Niagara-valle verhuis op versoek van sy broer wat aan hom 'n werksaanbod gemaak het. Die familie het kaartjies op die SS New York gehad, maar omdat die SS New York weens die nasionale steenkoolstaking, nie sou vaar nie het die familie hulle tweedeklas kaartjies vir derdeklas kaartjies op die Titanic geruil. Die derdeklas passasiers op die Titanic is heeltemal anders hanteer en het nie met die ander klasse gemeng nie.
Die gevolg was dat die Goodwins ook nie op die reddingsbote plek gekry het nie. Sommige meen hekke het die derdeklas passasiers van die ander geskei en dit vir hulle bemoeilik om by reddingbote uit te kom. Behalwe vir Sidney, is die oorskot van die Goodwin-familie nooit gevind nie. Sidney is deur bemanninglede in die Fairview Lawn Cemetery of Halifax as 'Body 4' op 4 Mei 1912 begrawe. Nadat sy identiteit bekend geword het, is 'n tweede gedenkdiens deur Carol Goodwin gehou. Carol se ouma was sy pa, Frederick, se suster. Sy en haar man sal op die gedenkbootvaart in April 2012 wees wanneer dieselfde roete as die Titanic gevolg gaan word.
Reddingsbote het hulle ligte uitgedoof
'n Verdere kwessie was dat reddingsbote hulle ligte uitgedoof het sodat mense in die water hulle nie kon teiken en oorval nie. Hierdie besluit het oorlewendes in die water blindelings laat ronddobber omdat hulle nie geweet het waarheen om te swem nie. Indien die reddingsbote se ligte aan was sou hulle ‘n sweempie van hoop gehad het om gered te word.
In die ondersoek na die tragedie het sommiges gesê daar was geen ligte in die reddingbote nie. Samuel Hemming (43), die lampopsteker, het bevestig dat daar net in die eerste drie of vier bote nie lanterns was nie. Altesaam 14 lampe was gevul, aangesteek en aangegee vir gebruik in die reddingsbote. Twee het reeds lampe gehad wat elke aand om 6 uur vir veiligheidsredes aangesteek is. In totaal was daar dan 16 bote en dus ook genoeg lampe vir elke boot.
Tydens die ontwerpstadium het hulle voorsien dat die Titanic 48 reddingsbote sou dra. White Star Line het besluit dat daar slegs sestien houtbote gedra sou word wat slegs vir 52% van die mense aan boord voorsiening gemaak het. Die gevolgtrekking is dus dat daar heeltemal te min reddingsbote op die Titanic was.
Daar was geen verkykers in die uitkykpos nie
Baie vrae is gevra na die sinking van die Titanic so asof hulle enige ander rede gesoek het waarom die onsinkbare so skielik gesink het. Een van die redes was dat daar nie ‘n verkyker in die uitkykpos was nie.
Tydens ondervraging van George Hogg (29), het hy beweer dat tweede offisier David Blair vergeet het om 'n sleutel agter te laat toe op die nippertjie sy plek op die Titanic verloor het. Sonder hierdie sleutel kon die bemanning nie die kassie oopsluit waarin die verkyker toegesluit was nie. Blair is vervang met tweede offisier Charles Lightoller (38). Volgens Lightoller se getuie was daar gewoonlik vyf paar aan boord een vir elke offisier, die bevelvoerder en een paar vir die brug en was bekend as ‘pilot glasses’.
Selfs al was een paar deur die tweede offisier misplaas kon 'n ander paar maklik vir die uitkykpos geleen word. Meeste kenners wat na die ongeluk ondervra is het bevestig dat hulle in elke geval nie verkykers in die uitkykpos aanbeveel nie aangesien dit die offisier se aandag sal aftrek van die groter prentjie voor hom. Met of sonder verkyker, die gebruik van nagvisie verg spesiale opleiding in soek en waarnemings tegnieke so selfs nagkykers sou nie ‘n verskil gemaak het in die gebeure van die nag van 14 April nie.
Die sleutel wat later deur Aldridge & Seuns op 'n veiling verkoop is was gemerk met 'n kaartjie waarop gestaan het 'Binocular Box". Enige iemand kan maar net spekuleer dat dit die sleutel was, maar dit bly steeds net spekulasie. Daar was geen bewyse om dit te bevestig nie. Verklarings het gewys dat dit nie standaard prosedure was om 'n verkyker vir die uitkykpos uit te reik nie. Die legende dat dit die 'missing' verkyker was wat die skip se lot verseël het, is net 'n legende.
Riversdaller aan boord
Daar was ook 'n Riversdaller op die Titanic. Sidney Jacobson se pa het 'n winkel gehad op die hoek van Hoof- en Kerkstraat in Riversdal. Sidney Samuel Jacobson (40), 'n prokureur bevind hom in 1912 by Fernrdige Square 7 in Londen. Hy vertrek van Southhampton met sy vrou Amy as tweedeklas passasiers op die nooiensvaart van die Titanic na Amerika. Toe die Titanic die nag van 14/15 April sink is sy vrou gered . Amy Frances Christy Jacobson (24) kaartjie no. 243847 was op reddingsboot no. 12 en vertrek op 11 Mei 1912 terug na Engeland met die Megantic.
Gedenkplaat op skeepswrak weg
In 1986 is 'n brons gedenkplaat deur die Titanic Historical Society op die agterstewe van die Titanic-wrak aangebring tydens die oseanograaf, Robert Ballard se tweede ekspedisie na die Titanic -graf. Die eerste ekspedisie was 'n gesamentlike poging van die Amerikaners en Franse wetenskaplikes op 1 September 1985. Die gedenkplaat was die eerste tasbare herinnering wat op die wrak aangebring is en sou oorspronklik op die boeg aangebring word, maar omdat die meeste oorledenes saam op die agterstewe was ,is daar besluit om die gedenkplaat daarop aan te bring. Tydens 'n latere besoek was die gedenkplaat weg. "In memory of those souls who perished with the "Titanic" April 14/15, 1912. Dedicated to William H. Tantum, IV whose dream to find "Titanic" has been realized by Dr. Robert D. Ballard. The officers and members of the Titanic Historical Society inc. 1986" (Emsie Martin).

Sidney Goodwin (links), Frederick en Augusta Goodwin met hul kinders.

Die reddingsbote wat na die tyd gevind is.