Die geleentheid is ook bygewoon deur die Uitvoerende Burgemeester van Hessequa, raadslid Emor Nel, haar gade Dolf en ’n hele aantal mense wat van die destydse Hessequa afstam.
Die bestuur van die Hessequa Vereniging vir Argeologie (HVA) het ná Reon Meij se oorlye in 2011, eenparig besluit om jaarliks ’n Reon Meij Gedenklesing aan te bied ter gedagtenis aan Reon se jarelange passievolle betrokkenheid by die argeologie van die streek.
Toe die destydse Hessequa Argeologiese Advieskomitee (HAAK) ontbind is, het die Hessequa Vereniging vir Argeologie deur sy toedoen tot stand gekom. Hy was by verskeie projekte van die vereniging betrokke. Hy het hom in die besonder gewy aan die skoleprojek, wat daartoe gelei het dat ’n handboekie oor die vroeë ontwikkelingsgang van die mens aan laerskole in Hessequa beskikbaar gestel is.
Die projek om die voorgeskiedenis en die genetiese agtergrond van die plaaslike bevolking te laat opteken, was die laaste waaraan hy gewerk het. Belinda Gordon en haar man, Harry gaan tans voort met hierdie projek. Die navorsing in verband met die genetiese agtergrond is onderneem deur prof. Michael de Jongh en prof. Himla Soodyall en by geleentheid van die gedenklesing, is die finale verslag deur prof. De Jongh aan die voorsitter van die vereniging, dr. Chris Heese oorhandig.
’n Kopie van die verslag is ook deur mnr. Moses Michaels namens die gemeenskap van Melkhoutfontein in ontvangs geneem. Die verslag gee ondermeer ’n aanduiding van die politieke organisasie van die Hessequa-stam, waar die mense sedert 1652 gewoon het, dat die Hessequa met skape en beeste geboer het, dat hulle moontlik gewasse geplant het en wat die genealogiese tipering van huidige inwoners van die streek is.
Daar is ook vrae wat nog onbeantwoord bly, byvoorbeeld wat was die heersende tegnologieë, waaruit het die mense se dieet bestaan, wat het hulle as wapens gebruik, hoe het hulle geloofstrukture daarna uit gesien? Die verslag is tans net in Engels beskikbaar, maar die vereniging sal hom daarvoor beywer om dit in Afrikaans beskikbaar te stel sodat dit vir die breë publiek in die streek toeganklik sal wees. As die nodige bronne gevind kan word, sal die verslag in Afrikaans in die biblioteke van die streek geplaas word.
Die Vereniging vertrou dat genoeg mense uit die gemeenskap na vore sal tree om met hierdie verdere ondersoeke behulpsaam te wees of die nodige bronne sal genereer sodat die vereniging namens die gemeenskap die navorsing kan voortsit. (Hessequa Vereniging van Argeologie)

Prof. Micheal de Jongh (links) oorhandig die navorsingsverslag aan mnr. Moses Michaels van Melkhoutfontein.