STILBAAI NUUS - Een van die kusdorp se kleurryke inwoners is op 6 Desember aan hartprobleme oorlede.
William Mills was nie net as kleremaker bekend nie, maar ook as 'n mens-mens en diereliefhebber.
Sy broer, Athlone, wat in Hartbeespoort woon, beskryf hom as 'n sagte mens wat baie familievas was. Hy was die oudste van ses kinders.
Mills het op 20-jarige ouderdom by 'n modeskool ingeskryf en hom as klere- en verhoogkostuummaker bekwaam. Sy teaterloopbaan het by die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) begin en na ander streekrade en televisie uitgebrei. Hy het onder meer die kostuums vir groot produksies in die Staatsteater in Pretoria soos Shaka Zulu ontwerp.
Arm mense het egter altyd na aan sy hart gelê: "My broer het elke jaar matriekafskeidrokke aan 'n hele paar matriekdogters gegee," sê hy.
Mills vertel sy broer was 'n regte eekhoring en baie goedjies wat hy in die vyf jaar wat hy op Stilbaai gewoon het versamel het, kon na sy dood aan Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum geskenk word.
Die twee broers lyk opvallend baie na mekaar, iets wat een van die begrafnisgangers by William se diens groot laat skrik het. Die vrou het volgens Athlone een kyk na hom gegee en ontsteld gevra: "Wat soek William hier?"
Mills was 72 en laat twee broers en een suster agter.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'