RIVERSDAL NUUS - Die skielike afsterwe van Ampie Moses (60) op Dinsdag 7 Mei was 'n skok vir die gemeenskap.
Andreas Moses, bekend as Ampie, is op 29 November 1958 op Riversdal gebore.
Hy het sy laerskoolopleiding aan die destydse St. Andrews laerskool en gr. 9 aan Gerrit du Plessis Senior Sekondêr voltooi. Hy is in 1981 met Annie Taute getroud en vier dogters is uit die huwelik gebore. Hy het by Riversdal-poskantoor as posbode gewerk en is na Beaufort-Wes verplaas. Hy het later bedank en teruggekeer om 19 jaar as voorman by Riversdal-munisipaliteit te werk.
"Ampie was van laerskool af 'n vriend," vertel raadslid Chris Taute. "Hy het homself dikwels te kort gedoen om ander mense ten koste van homself en sy gesin te help. As munisipale amptenaar het hy dikwels die ekstra myl geloop om die gemeenskap te dien en te help. Hy sal gemis word."
Ampie het elke jaar oor die Kersseisoen die familiewoning in Kerkstraat met Kersliggies versier - 'n taak wat hy met liefde uitgevoer het. "Dit verskaf my groot vreugde om saans voor my woning te staan en te sien hoe die kinders hulle verwonder en hoe die voertuie stadig verbyry. Ek vergeet dan van die elektrisiteitskoste."
Kort na Ampie in 2016 by Hessequa-munisipaliteit bedank het, was hy vir Icosa 'n kandidaat in die plaaslike verkiesing. By St. Andrews Anglikaanse kerk was hy as jong man by die altaarsvereniging en die kerkbrigade betrokke, en later was hy ook lid van die Church Men's Society.
As rugbygeesdriftige het hy as voorsitter van Riversdal Blues-rugbyklub en op die bestuur van die SWD-rugbyvoetbalunie gedien. Die gemeenskap sal sy stem onthou as uitsaaier tydens die jaarlikse six-a-side krieket.
Kanker is by hom gediagnoseer en hy is na 'n kort siekbed van slegs drie weke oorlede. Sy begrafnisdiens vind Saterdag 18 Mei uit die St. Andrews-kerk plaas.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'