Update
STILBAAI NUUS - Sonwysers is een van die oudste maniere om tyd aan te dui, maar nie alle modelle is interaktief nie.
In die rustige Tuin-op-die-Brak aan die oostekant van Stilbaai is 'n pragtige analemmatiese uurwyser waar besoekers fisies deel van die meting van tyd kan word.
Sonhorlosies is plat vlakke waarop die son skyn. 'n Wyser wat regop op die vlak staan, gooi 'n skadu op die verskillende uurmerkers wat in 'n halfsirkel om die plat vlak aangebring is. Met die beweging van die son verskuif die posisie van die merker se skaduwee en so word die verbygang van ure aangedui.
'n Analemmatiese sonwyser het nie 'n permanente regop merker om skadu te gooi nie. Die persoon wat wil sien hoe laat dit is, moet op die plat vlak staan en word self die wyser of gnomon.
Die vlak bestaan uit 12 blokke, een vir elke maand. Elke blok het 'n kleiner blokkie waarop die mens-gnomon moet staan. Die kleiner blokkies loop rofweg in die vorm van 'n syfer agt waarvan een sirkeltjie effens kleiner as die ander is. Die son beweeg deur die loop van 'n jaar in 'n baan wat in hierdie vorm is. Op die ewenaar is die sirkels van die agt ewe groot. Die diagram wat die son se beweging uitbeeld, word 'n analemma genoem.
Stilbaai se sonwyser is ses jaar gelede gebou nadat plaaslike inwoner Louise Steytler deeglik daaroor navorsing gedoen het. Die betonblokke vir die plat vlak, elk met 'n uitbeelding van 'n dier wat eie aan die gebied is, is deur Schalk van Schalkwyk gegiet en saam met plaaslike geoloog David Jones het die unieke projek gestalte gekry.
Steytler vertel dat die sonwyser veral vir kinders betowerend is. Elkeen wil self opklim en sodra hul skaduwee op die regte uur se getal val, is die eenparige uitspraak: "Wow!"
Lees 'n vorige artikel hier: Wees 'n gnomon in Stilbaai
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'