STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-avalgilde het Donderdagaand, 2 Februarie, hulle eerste afvalaand vir 2023 gehad en ook hul algemene jaarvergadering gehou.
Die hele bestuur is onbestrede herkies en sal verseker dat daar elke twee maande gesmul gaan word aan die heerlikste afval, voorberei deur Feedem by Stilbaai-ouetehuis.
Die gilde het teen einde 2022 uit 90 lede bestaan en daar het gemiddeld 73 persone elke ete bygewoon.
Tydens hierdie etes word daar nie net geëet nie, maar daar word kopstukke gesels en vir 'n wyle vergeet van beurtkrag en die droogte en sommer al die ander pyne.
Wat egter 'n feit is, is dat daar alreeds uitgesien word na die volgende byeenkoms sodra hulle van die tafel af opstaan.
Sommige gaan ook sommer by voorbaat 'n ou pilletjie sluk by die huis vir die jig wat wag, maar dis oor en oor die moeite werd.
Tydens die jaarvergadering het die voorsitter, Willie Delport, 'n erelidmaatskapsertifikaat aan Pinoc Jacobs oorhandig vir sy jare lange toewyding en ondersteuning aan die Afvalgilde.
Van links is Gert Kleynhans, Henry McCallaghan, Willie Janse van Rensburg, Annes Bester, Louis le Roux (weggesteek) en Len Kruger lê weg aan die afval.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'